ʼn Nieu-Seelandse supermarkgroep het nou ook aarbeie wat van Australië afkomstig is van sy rakke gehaal nadat naalde in van die vrugte gevind is.
Countdown, ʼn Nieu-Seelandse supermarkketting, het in ʼn verklaring gesê die naalde is gevind in aarbeie wat van Wes-Australië afkomstig is en in ʼn Countdown-winkel in Auckland gekoop is. “As ʼn bykomende voorsorgmaatreël en op advies van gesondheidsowerhede in Australië moet klante alle Australiese aarbeie eers opsny voordat dit geëet word,” lui die verklaring.
Countdown het gesê hy is intussen in kontak met owerhede in Australië en Nieu-Seeland om ondersoek in te stel na die saak.
Dié aankondiging kom nadat aarbeie in Australië verlede week op groot skaal aan winkels onttrek is. Die besluit is geneem nadat daar reg oor die land naalde in pakkies aarbeie in Woolworths-winkels gevind is wat deur ʼn Queensland-plaas verskaf is.
Sedertdien is meer as 100 voorvalle in die land aangemeld waar naalde in aarbeie, piesangs en appels gevind is.
Woolworths in Australië het verlede week aangekondig hy het ook besluit om voorlopig nie meer naaldwerknaalde in sy winkels te verkoop nie in reaksie op die aarbeikrisis.
The Straits Times berig ʼn man van Singapoer het ook ʼn stuk skerp metaal soortgelyk aan ʼn naald in ʼn bakkie aarbeie gekry wat uit Perth in Australië ingevoer is. Dié aarbeie is glo in ʼn winkel in Mahota gekoop.
The New Paper berig FairPrice, ʼn reusesupermarkgroep in Singapoer, het sedertdien alle aarbei-invoere uit Australië gestaak. Volgens mediaberigte het die supermarkgroep gesê sy aarbeiverkope het met 10% afgeneem sedert berigte oor die sabotasie van dié vrugte aan die lig gekom het.
Die Australiese parlement het onlangs wetgewing rakende strenger strafmaatreëls vir voedselpeutery bespoedig. ABC berig vonnisse vir “voedsel-terroriste”, soos die oortreders deur die Australiese media gedoop is, is van tien jaar tronkstraf na 15 jaar verhoog.
Radio New Zealand berig die Wes-Australiese regering het ook ʼn beloning van $100 000 uitgeloof vir inligting wat kan help om die oortreders in die aangemelde voorvalle vas te trek. Minstens een minderjarige is in hegtenis geneem nadat hy glo erken het hy het naalde in pakkies aarbeie geplaas, en nog ʼn minderjarige is deur die polisie ondervra, maar owerhede meen die oorspronklike oortreder is nog nie vasgetrek nie.
Scott Morrison, eerste minister van Australië, het intussen strenger voedselbeheermaatreëls aangekondig om die probleem hok te slaan, insluitend regeringsbefondsing om peutervrye verpakking-opsies te ondersoek en die onlangse bekendstelling van die gebruik van X-strale en kleefplastiek op aarbeie wat uitgevoer word.
Die aarbeie het ‘n skerp smaak…
Hoe kry die minderjariges toegang tot die verpakking/verpakte produkte?
In Australië kan minderjariges deeltydse werk doen vir sakgeld.
Wonder wat hulle betaal word om dit te doen. Geen optogte of afbranding word gepleeg nie want daar is groot wetgewing teen dit nou moet daar maar naalde in die arbeie gesit word. Klink nogal bekend om die ekonomie te ruk
Dis vi rmy simpel dat hul ophou om naadlwerknaalde in hul winkels te verkoop – DIT gaan mos nie help nie. Ai ek weet nie meer wat in ons wêreld aangaan nie. Mens kan nie eers vrugte meer net EET nie
MAAR moet ek ook byvoeg BRAVO aan die Aussie regering wat dadelik iets doen en ook befondsing gee om die probleem aan te spreek. Hier sal bosberade gehou word en beloftes gemaak word en niks gedoen word nie.
Amper so erg soos om kits kos in sa te bestel …as jou Afrikaanse aksent opgetel word .
Ek vat eerder aarbei met n naald as n burger met jy weet wat ;-)
Hehehe en kommissies van ondersoek sou op die been gebring word, en dit alleen sou maande geneem het.