Nalatigheid ondersoek ná 21 drawwers sterf

Een van die drawwers kry mediese behandeling in die hospitaal nadat hy onder uiters koue weersomstandighede aan ʼn 100 km-veldwedloop in Gansu, China, deelgeneem het (Foto: STR, AFP)

Chinese owerhede het ʼn ondersoek gelas ná minstens 21 drawwers die afgelope naweek tydens ʼn 100 km-veldwedloop in Gansu dood is. Deelnemers, wat top- plaaslike marathonatlete insluit, is dood weens uiters koue weerstoestande. Vrae het ontstaan nadat dit aan die lig gekom het dat organiseerders glo nie ag geslaan het op weerwaarskuwings wat vroeër deur dié provinsie se meteorologiese buro uitgestuur is nie.

Mense het ná dié ramp hul woede op sosiale media uitgespreek en gesê die organiseerders kon meer gedoen het om die drawwers se dood te verhoed.

Maroela Media het vroeër berig hael, ysreën en wind het deelnemers van dié wedloop Saterdagmiddag op hoë dele van die Yellow River Stone-woud naby Baiyin in die noordwestelike Gansu-provinsie getref. Volgens onbevestigde meteorologiese berigte het die temperatuur in daardie stadium tot -24 ˚C gedaal. Die Gansu Meteorologiese Buro het glo Vrydag ʼn waarskuwing uitgereik oor skielike swaar buie, hael, weerlig en stormsterk wind.

Die organiseerders van die wedloop het noodoproepe van sommige deelnemers ontvang en daarna ʼn reddingspan ontplooi. Hulle kon 18 van die 172 deelnemers red. Teen Sondag het die dodetal op 21 gestaan. Onder die slagoffers is top- plaaslike marathonatlete Liang Jing en Huang Guanjun.

Provinsiale owerhede het intussen ʼn ondersoekspan saamgestel om die oorsaak van die voorval te ondersoek. Die span gaan ook die gerugte ondersoek dat organiseerders glo die weerwaarskuwings geïgnoreer het.

Zhang Xiaotao, een van die deelnemers, het op sosiale media geskryf dat sy ledemate styf gevries was en hy het gevoel asof hy beheer oor sy liggaam verloor het.

“Ek het my isolasiekombers om my toegedraai, my GPS uitgehaal, die SOS-knoppie gedruk en my bewussyn verloor,” vertel hy.

ʼn Herder het hom glo bewusteloos op die grond aangetref en na ʼn grot gedra, in ʼn kombers toegedraai en by ʼn vuur neergelê.

Ander oorlewendes het vertel dat die isolasiekomberse wat deur organiseerders verskaf is, deur sterk winde aan flardes geskeur is.

Nóg ʼn oorlewende het aan plaaslike media vertel toe hy teen die berg afgehardloop het, het hy gesien hoe die mense op die grond lê. Hy sê van hulle het nie meer asemgehaal nie.

Die provinsie Gansu, wat ʼn deel van die Gobi-woestyn insluit, ervaar gereeld sulke uiterste weersomstandighede. Die stad Baiyin, waar die wedloop gehou is, se hoogliggende gebiede bereik ʼn hoogte van meer as 3 300 m.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
pestilensie

Sjoe, sien dan maar eerder kans vir hierdie klompie kriminele van ons . Lees die drawers nie die weerberugte nie ? Vra maar net

Misky

Ek dink beide kante was onverantwoordelik en die drawwers kon sekerlik ook sien dat dit te koud en gevaarlik sal wees. Nee heng, ek is te lief vir my bed op koue winters oggende en sal nie daar aard nie

Samuel

Toe die wedloop begin het was dit sekerlik nie so koud nie?? Frats weersomstandighede?