Name van ‘rassistiese’ koninklikes op TV-program onthul

Piers Morgan. (Foto: Valerie Macon/AFP)

Die Britse televisiepersoonlikheid Piers Morgan het Donderdagoggend op die regstreekse oggendprogram, TalkTV, die name onthul van die koninklikes wat glo destyds rassistiese opmerkings gemaak het oor prins Harry en Meghan Markle se [toe ongebore] seun, Archie.

Dié onthulling kom nadat ʼn Nederlandse vertaling van ʼn nuwe boek oor die Britse koninklikes, getiteld Endgame, geskryf deur die sogenaamde koninklike kenner, Omid Scobie, inderhaas van die rakke in dié land verwyder is – juis omdat ʼn vertalingsblaps onthul het wie glo destyds opmerkings oor prins Archie se velkleur gemaak het.

Hoewel verskeie nuuspublikasies, wat die boek onder oë gehad het, ook gekies het om nie die name te noem nie, voer Morgan aan dit was koning Charles III en Catherine, prinses van Wallis, wat dié uitlatings oor prins Archie voor sy geboorte gemaak het.

Harry en Meghan het in 2021 tydens ʼn opspraakwekkende onderhoud met Oprah Winfrey beweer twee lede van die koninklike familie het “hulle kommer te kenne gegee en gesprekke gehad oor hoe donker sy vel – met verwysing na prins Archie – kan wees”.

Hoewel die paartjie nie self die name in die onderhoud onthul het nie, het hulle dit aan Winfrey duidelik gestel dat dit nie wyle koningin Elizabeth II of haar oorlede man, prins Phillip, was nie.

Harry, Meghan, Archie en Lilibet. (Foto: Alexi Lubomirski/Instagram)

“As Nederlanders wat in ʼn boekwinkel ronddwaal hierdie name kan sien, dan is julle, die Britse mense wat eintlik betaal vir die koninklike familie, ook geregtig om te weet,” het Morgan tydens die program gesê.

“Totdat daar werklike bewyse van daardie opmerkings is, sal ek dit ook nooit glo nie,” het hy bygevoeg.

Maroela Media het vroeër berig dat die boek “verskeie eksklusiewe onthullings” beloof danksy Scobie se “unieke insig en dieper toegang” tot die Britse koninklikes.

In die Britse en Amerikaanse weergawes van Endgame is die identiteite van die twee koninklikes ook nie gegee nie, maar ʼn weergawe van die boek wat in Nederland te koop is, het ʼn ekstra paragraaf ingesluit wat hul klaarblyklik geïdentifiseer het.

Die boek se Nederlandse uitgewer, Xander Uitgewers, het in ʼn verklaring op sy webblad gesê dat die “gewysigde weergawe” op 8 Desember op winkelrakke sal verskyn.

Scobie, wat glo na aan prins Harry en Meghan Markle is, het bekendgeraak ná die publikasie van die koninklike paartjie se nie-amptelike biografie, Finding Freedom, waarvan hy ʼn medeskrywer was.

Hy het sedertdien ʼn gunstelingkommentator oor die koninklikes onder veral die Amerikaanse media geword en tree gereeld as korrespondent vir ABC News en Good Morning America op.

Die Independant berig dat Scobie die onthulling van koning Charles en prinses Catherine se name bloot as ʼn “vertaalfout” eerder as ʼn bemarkingsfoefie bestempel.

Camilla, die koningin-gemaal, koning Charles III en prins William en Kate Middleton, die prins en prinses van Wallis. (Foto: Instagram/@The Prince and Princess of Wales)

Bronne: The Independant, People, BBC.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

George ·

Die enigste Piers Morgan wat ek geniet het, was toe hy Brett Lee moes face.

Anel ·

Ek dink dit is wat baie mense gewonder het. Hoekom nie? Maar nou ja, soos Napoleon gesê het:jy mag nie hardop sê wat jy saggies dink nie!

Nici ·

Ek kan verseker se dat Megan lieg. As Charles ‘n rassis was is daar geen manier dat hy Megan in die kerk sou weggee nadat sy haar pa eenkant gestoot het nie. Geen rassis sou haar so verwelkom het nie. Megan is onstabiel en probeer die raskaart speel met haar 25% kleur. Haar kinders is witter as sy.

John ·

Dit was maar net n vraag wat ek dink duisende ander mense ook gevra het….so hoekom die bohaai……..

anko ·

Wat maak dit saak wat die kleur is. Dis M wat behep is met alles. Sy hou van om in die “lime light” te wil wees. Indien hulle dan so privaat wil of wou lewe hoekom is hulle gedurig in die nuus. H&M moet groot word en aanvaar die lewe wat julle gekies het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.