Namibië begin afsonderingsregulasies ophef

Die Namibiese vlag. (Foto: Verskaf)

Namibië begin vroeg volgende week om sy afsonderingsregulasies geleidelik te verslap. Die land het sedert begin April nog geen nuwe gevalle van Covid-19 aangemeld nie.

Hage Geingob, president van Namibië, het Donderdag gesê hoewel die land nog geen nuwe gevalle die afgelope 25 dae aangemeld het nie, kan die afsonderingstydperk nie summier opgehef word nie. Die geleidelike verslapping van afsonderingsregulasies sal dus in vier fases plaasvind, het die president verduidelik.

Fase 2 sal Dinsdag in werking tree en tot 2 Junie duur. Namibiërs word tydens dié fase toegelaat om plaaslik te reis hoewel hulle verplig word om maskers in die openbaar te dra. Sakeondernemings sal heropen mits die nodige veiligheidsmaatreëls gehandhaaf word. Dit sluit winkelsentrums, haarkappers en wasserye in. Restaurante sal toegelaat word om wegneemetes te verkoop.

Bioskope, gimnasiums, nagklubs en drankwinkels bly egter gesluit. Die koop en verkoop van alkohol in Namibië bly ook voorlopig verbode.

Die land se grense sal tydens fase 2 gesluit bly vir buitelanders hoewel Namibiërs toegelaat sal word om die land binne te gaan. Namibiërs wat die land binnegaan sal vir 14 dae in kwarantyn geplaas word.

Namibië se president, dr. Hage Geingob. Foto: Wikipedia

Volgens Geingob sal die land fase 3 na verwagting op 2 Junie betree. Dié fase sal tot 30 Junie geld waarna fase 1 in werking sal tree. Dié fase sal ʼn “nuwe normaal” vir landsburgers inhou en kan tot aan die einde van die land se noodtoestand duur, het die president gesê.

Namibië se noodtoestand is reeds teen die middel van Maart verklaar en sal minstens vir nog ses maande duur. Die noodtoestand mag ook moontlik verleng word, het Geingob gesê.

Altesaam 16 bevestigde gevalle van Covid-19 is in dié land aangemeld. Agt van dié pasiënte het reeds herstel. Namibië het nog geen sterftes weens die nuwe koronavirus aangemeld nie.

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Burgermeester ·

Ek moet nou eers kop krap oor die storie. As ek reg verstaan, dan het Namibië geen nuwe gevalle van die caronvirus aangemeld nie? Hoeveel mense het hulle getoets in die tydperk?

Nell ·

Die laaste getal wat deurgegee is was op 25 April en dit was maar 675 toetse wat uitgevoer is. Ons is al in ‘n rommelstatus-toestand sedert 2017 en daar is net eenvoudig nie genoeg geld beskikbaar om op ‘n groot skaal te toets nie. So alles rustig hier. Ons hoop en bid maar dit bly so.

Burgermeester ·

Dankie Nell. Stekte daai kant van die grensdraad. Wees veilig en gesond.

Estelle ·

Ons het so rondom n duisend getoets, maar hou in gedagte dat ons hele land die helfte minder mense het as Kaapstad. Die grootste persentasie van ons mense bly in nedersettings in die platteland waar hulle baie afgesonder is van buite invloede
Ons regering het ook onmiddelik uiters streng opgetree. Ons reëls en regulasies is eenvormig, baie duidelik en deursigtig, wat mense kalm hou en meer geredelik hul samewerking gee.
Ons sal maar sien wat die langtermyn konsekwensies van die besluite is. Ons ekonomie kan nie n langer afspertyd deurstaan nie. Ons mense staar n werklike hongersnood in die gesig, sou dit gebeur.

Burgermeester ·

Dankie vir die terugvoer Estelle. Veilig wees daar duskant die vlaktes van Hebron.

Jan Seerot ·

Jip, die doktor is geen god nie. Sy foto se onderskrif lees “….Geingod”.

Tania Heyns ·

Dagsê Jan Seerot

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die onderskrif is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

Charles ·

Dit wil vir my voorkom of Namibië ten minste hulle ekonomie meer belangrik ag as SA!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.