Namibië bevestig twee Covid-19-gevalle

Argieffoto

Twee gevalle van die nuwe koronavirus (Covid-19) is in Namibië bevestig.

Twee toeriste, ʼn egpaar van Spanje wat Woensdag in Namibië aangekom het, het positief getoets vir die virus, het Kalumbi Shangala, minister van gesondheid, Saterdag aan verslaggewers in Windhoek gesê.

“Die egpaar is dadelik in kwarantyn geplaas en ondersoek word ingestel om te bepaal met wie hulle almal in verbinding was. ʼn Suid-Afrikaanse laboratorium het Vrydagaand die uitslag bevestig.”

Die egpaar is deur ʼn privaat dokter ondersoek wat monsters na Suid-Afrika gestuur het vir toetse. Hulle word nou kragtens riglyne van die Wêreldgesondheidsorganisasie gemonitor.

Namibië, Swaziland, Ethiopië en Rwanda het die afgelope 48 uur elkeen hul eerste Covid-19-gevalle aangemeld.

Die beëdiging van die staatshoof sal by die staatshuis voortgaan. President Hage Geingob het intussen gesê Namibië se 30ste onafhanklikheidsvieringe is opgeskort weens die uitbreking van die virus. Die vieringe sou op 21 Maart by die Onafhanklikheidstadion plaasvind. “Die uitgawes wat vir die onafhanklikheidsvieringe aangewend sou word, sal nou gebruik word vir die stryd teen die koronavirus,” het Geingob gesê.

Die Namibiese regering skort met onmiddellike effek vir ʼn periode van 30 dae alle vervoer op na en van Katar, Ethiopië en Duitsland. Alle groot byeenkomste word ook vir ʼn periode van 30 dae opgeskort.

Geingob het gesê Windhoek-gimnasium sal ook met onmiddellike effek vir twee weke gesluit word.

Namibiese staatsamptenare, insluitend personeel van staatsbeheerde organisasies, se reisreëlings is ook opgeskort.

Vir meeste persone veroorsaak Covid-19 slegs ligte of matige simptome soos koors en hoes. Sommige persone, veral ouer persone en mense met bestaande gesondheidsprobleme, kan moontlik longontsteking opdoen.

Die grootste hoeveelheid mense herstel van die nuwe virus. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie herstel persone binne ongeveer twee weke. Persone met erger simptome herstel gewoonlik binne drie tot ses weke.

In China, waar meer as 80 000 gevalle aangemeld is, het meer as 63 000 persone reeds herstel.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hennie ·

Dit wil voorkom of al die Afrika lande van SA gebruik maak om die toetse te doen… Die voos SA belastingbetaler dok seker op hiervoor! Darm sooo lekker gemaklik!

Namgrl ·

Ek is seker ons vergoed SA vir die toetse. Moet jy nou so venyning wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.