Namibië geseën met Kersfeesreën

Windhoek (Foto: Chamel Melkie Pretorius/Reën in Namibië)

Reën het die afgelope paar dae oor verskeie dele van Namibië uitgesak.

Inwoners het op die Facebook-blad, Reën in Namibië, uit alle oorde van hulself laat hoor.

“Hoor hoe lekker raas die paddas, hulle is so bly, wat ‘n Kersgeskenk is dit om so baie water te kry,” skryf Adell Malan van Drie Krone op die Dorbabispad. Volgens haar het hulle teen Woensdag reeds 32 mm reën gehad.

Kanaal 7, ʼn Christelike gemeenskapsradiostasie in Namibië, het gesê berigte van goeie reënneerslae is ontvang van so ver suid as Kalkrand en Outjo in die noorde. Welkome reën het Sondagmiddag op Kalkrand en omstreke geval terwyl buie ook in Windhoek en Rehoboth uitgesak het. Goeie buie het ook in die omgewing van Okahandja en op die dorp uitgesak wat op sommige plekke met ligte hael gepaard gegaan het

Berigte van enkele donderbuie is van Karibib ontvang, terwyl dit die afgelope naweek ook op Otjiwarongo, Otavi, Tsumeb en Grootfontein gereën het. Swaar reën het ook die naweek oor Etosha uitgesak.

Stefan Saayman, algemene bestuurder van Kanaal 7, het Woensdagoggend aan Maroela Media bevestig hulle het die afgelope ongeveer 24 uur sowat 30 mm reën gehad in Windhoek. “’n 30mm Kersgeskenk. Ons dank en eer die Here,” het Saayman gesê.

Steffie Gerber het op die Facebook-blad laat weet hulle het ook 30 mm in Academia aangeteken.

“Nou reën dit hard in Pionierspark,” het Rudolf Mohrmann Dinsdag laat weet. “Suiderhoff ook!” voeg Follie Hough by. “Khomasdal ook!” sê Mella Schaller.

Lutz von Dewitz het gesê teen Woensdag het Olympia sowat 20 mm reën aangeteken en volgens Riaan Rust het Cimbebasia sowat 18 mm gehad.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.