Namibië: Presidentspaar positief, strenger regulasies volg

Hage Geingob (Foto: Johannes EISELE / AFP)

Strenger afsonderingsregulasies is Vrydag vir Namibiërs afgekondig kort nadat pres. Hage Geingob van Namibië en sy vrou, Monica Geingos, positief vir Covid-19 getoets het.

Dr. Kalumbi Shangula, minister van gesondheid en maatskaplike dienste in Namibië, het gesê die egpaar sterk goed aan. Hy het strenger regulasies rakende openbare byeenkomste en reis afgekondig.

Dié regulasies tree aan die begin van volgende maand in werking en sal vir die duur van Junie geld.

Namibië ondervind tans ’n toename in Covid-19-gevalle en verwante hospitaalopnames en sterftes. Dit het reeds tot groot druk op hospitale begin lei.

Die land het sedert 1 Mei byna 5 500 nuwe Covid-19-gevalle aangeteken. Dit kom neer op ’n gemiddeld van 204 nuwe gevalle per dag. Meer as 150 Covid-19-verwante sterftes is sedert begin vandeesmaand aangeteken met ’n gemiddeld van ses sterftes per dag.

“Indien hierdie toename nie gestuit word nie, sal Namibië 44 472 nuwe gevalle en 1 308 nuwe sterftes weens Covid-19 teen die einde van die jaar aanteken,” het Shangula gewaarsku.

(Argieffoto)

Strenger regulasies

Openbare byeenkomste word volgende maand van 100 mense tot 50 mense beperk. Dit geld vir byeenkomste wat binnenshuis of buite plaasvind.

Toeskouers word wat sportbyeenkomste betref tot 50 mense per byeenkoms beperk. Alle kontaksport word verbied.

Alle reisigers sal ook vanaf volgende maand ’n negatiewe Covid-19-toetsuitslag moet toon voordat hulle Namibië mag binnegaan. Toetsresultate is slegs vir sewe dae geldig.

Reisigers wat vanuit hoërisikolande, waaronder Indië, kom, sal ook verplig word om sewe dae ná hul aankoms in Namibië weer vir Covid-19 getoets te word.

Die regulasies rakende vervoer en begrafnisse bly onveranderd. Die aandklokreël in Namibië bly ook onveranderd en geld tussen 22:00 en 04:00.

Inenting

Daar is tans 383 inentingspersele in Namibië. Die land het sy inentingsveldtog in Maart van stapel gestuur.

Meer as 65 000 Namibiërs is reeds teen Covid-19 ingeënt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

Kyk nou hoe spring Dlamini-Zuma, ekskuus, Cyril Ramaphosa!

Staal ·

Waarom moet julle altyd alles verpolitiseer. Hage Geingob is n baie goeie leier. Bid eerder vir genesing

Hoekom ·

Lekker gewees in Namibië, totdat die presidents paar agter gekom het hulle is in gevaar en woeps covid maatreels volg. Wys jou net “our people” is behep en gepla net oor en met hulself…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.