Namibië se president te ruste gelê

Lede van die Namibiese Weermag begelei die kis van wyle Namibiese president Hage Geingob by Independence-stadion in Windhoek (24 Februarie 2024) (Foto: Michael Petrus/AFP)

Hage Geingob, Namibië se president wat op 4 Februarie gesterf het, word Sondag te ruste gelê by die Heldeakker in Windhoek. ʼn Gedenkdiens is Saterdag by die Independence-stadion gehou.

Maroela Media het vroeër berig Geingob is vroeg die Sondagoggend in die Lady Pohamba-hospitaal in Windhoek dood. Geingob, wat ten tyde van sy dood in sy tweede termyn as president gedien het, het verlede maand onthul dat hy vir kanker behandel word. Dié aankondiging het gekom nadat “kankerselle” tydens ʼn roetine‑ mediese ondersoek by die president aangetref is, waarna hy vir ʼn biopsie gegaan het.

Altesaam 18 staatshoofde sal Geingob se begrafnis bywoon, insluitend die president van Tanzanië, Duitsland, Finland, Suid-Afrika, Angola, Botswana, Kenia en Ghana.

Altesaam 27 lande het afvaardigings gestuur, insluitend die Verenigde State van Amerika, China en Algerië.

Pres. Cyril Ramaphosa in Windhoek om eer te betoon aan wyle pres. Hage Geingob (24 Februarie 2024) (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Frank-Walter Steinmeier, president van Duitsland, is Saterdag tydens die gedenkdiens  gemaan om gesprekke te bespoedig oor vergoeding vir koloniale era-menseslagting.

Steinmeier is daaraan herinner dat Duitsland nog moet instem oor vergoeding vir die slagting van die Herero en Nama tussen 1904 en 1908.

Duitsland het in Mei 2021 erken dat moorde deur sy soldate neerkom op menseslagting en het aangebied om ontwikkelingsprojekte ten bedrae van €1,1 miljard (byna R23 miljard) oor ʼn periode van 30 jaar te finansier.

Duitsland se pres. Frank-Walter Steinmeier (tweede van regs) kom by Independence-stadion aan (24 Februarie 2024) (Foto: Michael Petrus/AFP)

Vir talle Namibiërs, insluitend senior beamptes, was die aanbod nie goed genoeg nie en kom nie neer op formele vergoeding nie. Die onderhandelings duur voort.

Duitsland is ook deur Namibië veroordeel vir sy ondersteuning aan Israel, ondanks die enorme siviele dodetal van sy voortgesette bedrywighede in Gaza.

Voor Geingob se afsterwe in die ouderdom van 82 het hy ook “Duitsland se onvermoë om lesse uit sy verskriklike geskiedenis te leer” betreur.

McHenry Venaani, leier van Namibië se amptelike politieke opposisie, die Populêre Demokratiese Beweging (PDM), het Steinmeier direk aangespreek. “Ons mense verwag dat die Namibies-Duitse saak van menseslagting afgehandel word,” het hy gesê. “Ons pleidooi is dat, wanneer jy terugkeer, dat dit wat op die onderhandelingstafel geplaas word, ʼn ordentlike ooreenkoms namens ons mense sal wees. Maak ʼn ordentlike ooreenkoms sodat ons hierdie hoofstuk kan afsluit.”

Duitsland se staatshoof, anders as Namibië sʼn, is nie ʼn uitvoerende president nie en sal nie direk betrokke wees om ʼn vergoedingsbedrag te stel nie. Steinmeier het egter gesê Duitsland is daartoe verbind om betrekkinge te verbeter.

“Die pad na bemiddelling wat ons byna 10 jaar gelede aangepak het, is nie maklik nie, maar saam het ons al ʼn baie ver pad gekom en ons wil verder gaan,” het hy gesê.

Volgens Steinmeier het Geingob verlede jaar aan hom gesê dat hy ʼn gesamentlike Duits-Namibiese verklaring wil onderteken om ʼn streep te trek onder die menseslagting.

“En julle weet, versoening is nie om die verlede te sluit nie; dit is om aanspreeklikheid te aanvaar vir ons verlede en dit is ʼn verbintenis tot ʼn beter toekoms,” het hy tydens sy huldeblyk aan die wyle president gesê. “Ek hoop dat ek binnekort na hierdie land sal kan terugkeer onder ander omstandighede. Ek is oortuig dat dit hoog tyd is om ʼn verskoning te bied aan die mense van Namibië.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Martie ·

Nou wanneer begin England se vergoeding aan SA se blanke bevolking na sy menseslagting van die konsentrasie kampe?

Bolandse Nooi ·

Dan vat hulle die vergoeding van Duitsland aan die ou Duits-Wes, 120 jaar nadat hierdie verskriklike “ongeregtighede” gepleeg is … en oor nóg 100 jaar, eis die agterkleinkinders van die agterkleinkinders van die “voorheen-benadeeldes” wéér (steeds) van die agterkleinkinders van die agterkleinkinders van die Europese koloniste wéér vergoeding vir die ongeregtigheide van die verlede wat gepleeg is teen hul oor-oor-oor-oor-oorgrootjies deur dié se oor-oor-oor-oor-oorgrootjies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.