Namibiërs mag wel oor Covid-19 afgelê word, sê hof

Die Namibiese vlag. (Foto: Verskaf)

Die hooggeregshof in Windhoek, Namibië, het Dinsdag bepaal dat die noodtoestandregulasies, wat werkgewers verbied het om personeellede af te lê, hul salarisse te verminder of hulle op verlof te plaas weens die Covid-19-pandemie, ongrondwetlik en ongeldig is.

Die Namibiese Werkgewersvereniging, die Namibiese Werkgewersfederasie en verskeie ander maatskappye het ʼn dringende aansoek by die hooggeregshof ingedien en aangevoer hul maatskappye is op die randjie van bankrotskap as hulle nie toegelaat word om van voorskrifte in die Arbeidswet gebruik te maak om uitgawes te besnoei nie. Dié voorskrifte is opgeskort in bepalings wat pres. Hage Geingob in April uitgereik het, berig The Namibian.

Die regulasies het bepaal dat werkgewers, tydens Namibië se Covid-19-afsonderingsperiode, nie enige werknemers mag aflê, hulle salarisse mag verminder of hulle mag dwing om met verlof te gaan nie weens die impak wat die pandemie op die werkgewer se besigheid het.

Die aansoekers het aangevoer Geingob se besluit, om dié voorwaardes op te skort, is “irrasioneel, onregverdigbaar en onredelik”.

Raymond Heathcote, vir die groep werkgewers, het in Mei aangevoer daar is geen twyfel nie dat Geingob goeie bedoelings gehad het toe hy die noodtoestand afgekondig het, maar dit was onverstandig en het irrasionele besluite tot gevolg gehad, het die Namibiese openbare uitsaaier berig.

Heathcote het gesê Geingob het die grondwetlike mag misbruik toe hy van die voorskrifte in die Arbeidswet opgeskort het, wat geen ander doel dien nie as om die regte van alle mense, insluitend werkgewers, te beskerm. Hy het aangevoer die noodtoestand is afgekondig weens die virus, en nie weens die verlies aan poste nie. Die opskorting van die Arbeidswet spreek dus nie die nood aan nie, maar veroorsaak ʼn bedreiging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae