Namibiërs vandag stembus toe

Namibiese pres. Hage Geingob kort voordat hy sy kruisie in Windhoek getrek het. (Foto: Brandon van Wyk/AP)

Stembusse in Namibië het Woensdag vroegoggend geopen in wat waarskynlik een van die regerende party se taaiste uitdagings gaan wees sedert onafhanklikheidswording drie dekades gelede. Die hulpbronryke land se 1,3 miljoen geregistreerde kiesers stem vir ʼn president en parlementslede.

Die regerende Swapo-party is onlangs geruk deur ʼn korrupsieskandaal en die immer verslegtende ekonomie. Meer as 700 000 van die land se nagenoeg 2,5 miljoen inwoners het boonop geregistreer vir noodverligting weens ʼn voortslepende droogte in die streek.

Pres. Hage Geingob het ook ʼn mededinger in eie geledere wat as onafhanklike kandidaat aan die verkiesing deelneem. Veral die jeug – van wie 46% werkloos is – vind aanklank by dr. Panduleni Itula. Vanjaar se verkiesing sluit ook meer as 400 000 kiesers in wat gebore is sedert Namibië se onafhanklikheidswording van Suid-Afrika.

Itula het op die nippertjie gevra dat elektroniese stemmasjiene nie sonder ‘n verifieerbare papierspoor tydens die verkiesing gebruik word nie, maar die aansoek is verwerp. Namibië was die eerste land in Afrika suid van die Sahara om dié masjiene te gebruik.

Geingob het vandag, nadat hy sy kruisie in Windhoek getrek het, gesê die verkiesing is ʼn stryd en nie ʼn oorlog nie, het die Namibian Broadcasting Corporation (NBC)berig.

ʼn Ongekende opvolgverkiesing kan moontlik volg as geen presidentskandidaat 50% plus een stem behaal nie.

In die laaste verkiesing in 2014 het Swapo altesaam 80% van stemme op hom verenig, die hoogste ooit, terwyl Geingob 87% van die stemme vir president gekry het.

Die regerende party het vroeër vandeesmaand die wind van voor gekry toe twee ministers bedank het nadat Ysland se grootste seekosmaatskappy, Samherji, daarvan beskuldig is dat hy omkoopgeld aan plaaslike politici betaal het vir toegang tot Namibië se viskwotas. Tesame met die mynbedryf, is visserye ʼn belangrike ekonomiese hulpbron vir die land.

Politieke ontleders glo egter nie die skandaal gaan ʼn groot uitwerking op die uitslag van die verkiesing hê nie, omdat die meeste kiesers waarskynlik al besluit het vir wie hulle gaan stem.

Ander kandidate sluit in Namibië se eerste vroulike presidentskandidaat, Esther Muinjangue.

Die amptelike opposisie, die Popular Democratic Movement, gelei deur McHenry Venaani, se veldtog het grootliks gefokus op Swapo se tweederdemeerderheid in die parlement. Venaani voer aan dit lei tot straffeloosheid en korrupsie.

Die Landless People’s Movement, gelei deur Bernardus Swartbooi, het gefokus op grondonteiening in Namibië. Die land het van die wêreld se hoogste vlakke van ongelykheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Theoman ·

Snaaks dat die regerende party SWAPO nog steeds die naam gebruik al is Suidwes nou Namibie Swapo is eintlik…. South West Africa Peoples Organisation.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.