Namibiese polisie slaan toe op dronkbestuurders

Dis lekker by die see op dorpe soos Swakopmund (foto) en Walvisbaai, maar Namibië se polisie waarsku hulle sal nie dronkbestuur duld nie. Foto: Wikipedia

Polisiebeamptes aan Namibië se kus het tot dusver dié Kerstyd 33 dronkbestuurders in hegtenis geneem.

Ileni Shapumba, bevelvoerder van gemeenskapsake van die polisie in die Erongostreek, het aan die dagblad The Namibian gesê verreweg die meeste van die mense wat in hegtenis geneem is, was mans. Almal het borgtog van N$8 000 elk betaal, wat gelykstaande is aan R8 000.

Blykbaar is die meeste van die 33 oortreders in die afgelope week aangekeer in die omgewing van Swakopmund en Walvisbaai, waarheen duisende binnelanders in die Kerstyd uitwyk om aan die hitte in die binneland te ontsnap en by die see uit te span.

Shapumba het bestuurders gemaan om nie onder die invloed te bestuur nie. “Ons raai mense aan om reëlings te tref en te sorg dat iemand bestuur wat nugter is.”

Die polisie in Erongo het Maandag Operasie Hornkranz plaaslik van stapel gestuur. Dis ʼn gesamentlike optrede van die Namibiese Nasionale Weermag en die land se polisie.

Pres. Hage Geingob het die operasie Saterdag in die hoofstad, Windhoek, bekendgestel. Die doel daarvan is om wette tydens die Kerstyd toe te pas en te sorg dat orde in die woestynland gehandhaaf word.

Geingob het die daad by die woord gevoeg toe hy ʼn konvooi weermagvragmotors deur van die hoofstad se misdaadbrandpunte vergesel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.