Namibiese ruimteman oorlede

Dr. Japie van Zyl (Foto: NMMU)

Die Namibiese ruimteman, dr. Japie van Zyl (63), wat opgeneem is nadat hy ʼn hartaanval gehad het, is Woensdag in die waakeenheid van ʼn Amerikaanse hospitaal oorlede.

Ben van Zyl, Japie se broer, het aan Maroela Media bevestig hy was nog aan masjiene gekoppel toe hy oorlede is.

Maroela Media het vroeër berig Van Zyl het Maandag gaan draf, waarna hy in sy oprit voor sy huis in Pasadena, noordoos van Los Angeles, inmekaargesak het. Hy is sedertdien in ʼn koma in die hospitaal.

Van Zyl se vrou, Kalfie, kan nie haar man besoek nie, weens die Covid-19-regulasies.

“Dit is onwerklik om te glo. Die wêreld, Afrika en Namibië het een van sy heel beste wetenskaplikes en ruimtepioniers verloor,” het Hugo Vermeulen, die hoof van opleiding by die Skoleondersteuningsentrum (SOS), gesê. “Sy Nasa-helikoptertjie bekend as Curiosity, land eersdaags op Mars – om verdere verkennings daar te doen. Lank leef sy nagedagtenis.” Van Zyl was gasspreker by die SOS se 2018-kongresse en die organisasie se Robotika-vakvereniging is na hom vernoem.

Van Zyl is ʼn Namibiese boorling en het onlangs uitgetree by die internasionale ruimtemaatskappy Nasa JPL in Pasadena, Kalifornië. Hy was ook betrokke by ʼn span kenners wat gewerk het aan ʼn toestel wat pasiënte binne minute vir Covid-19 kan toets.

Volgens die Afrikaanse Wikipedia is Van Zyl in 1997 deur die Internasionale Instituut vir Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese verkies as die wêreldwye Jong Ingenieur van die Jaar, en in 1998 word hy erken as ‘n Gennoot – ʼn eer wat aan minder as 1% van die lede van die organisasie toegeken word. In 2010 ontvang hy die Onderskeidende Prestasie-toekenning van dieselfde organisasie vir sy bydraes in die veld van radarnavorsing. Hy word in 2015 vereer met ‘n eredoktorsgraad in Ingenieurswese deur die Universiteit Stellenbosch (US) vir sy werk.

US het intussen ook in ʼn verklaring sy meegevoel uitgespreek met Van Zyl se afsterwe en beskryf hom as “een van die wêreld se voorste ruimtewetenskaplikes”. “Die feit dat Van Zyl op Heldedag in Namibië (26 Augustus) gesterf het, moet nie ongesiens verbygaan nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Althes ·

Werklik ñ man om op trots te wees. My innige simpatie met sy familie.

Barend ·

Ai, nou gaan RSG se Sterre en Planete ook anders wees. Medelye aan sy familie

Strandloper ·

Tragies, sterkte aan Kalfie,Ben en ander familie. Die leewe is n oogknip, voel soos gister wat ek n koshuis kamer saam Ben ( toe nog Bennie) gedeel het.

Realis Thailand ·

Wat n man en wetenskaplike
Ek het hom gevolg met alles wat hy gedoen het
Hoekom moet so n goeie man so jonk sterf
Mag daar vrede vir sy familie wees.
Daar is min van sy soort

Frank ·

Gebore op Outjo en grootgeraak op Opuwo, Kaokoland. Desnieteenstaande die hoogste sport bereik. Wat ‘n man, watter wilskrag! Sterkte aan die familie. RIV.

Kokerboom ·

‘n Groot seder het geval. Ons eer sy wonderlike nagedagtenis. Baie sterkte aan Van Zyl familie in die tyd van diepe hartseer

Inkpot ·

Wat ‘n groot verlies!
Sy paatjies oor die radio was altyd so interessant.
Dis regtig jammer dat hy dit nou nie sal beleef dat sy helicopter op Mars gaan land nie.

Cheryl ·

Japie was een vd mees briljanste breine op sy gebied. Jy sal verseker in elke opsig gemis word. Sterkte aan die familie. Dink aan julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.