Nando’s ontken Mugabe-advertensie

Nandos-AdvertDie kitskosrestaurant Nando’s het Donderdag ontken dat ʼn advertensie met die bekende prentjie van pres. Robert Mugabe van Zimbabwe wat val, deur die maatskappy uitgereik is.

“Nando’s Zimbabwe wil graag die inwoners van Zimbabwe verseker dat die advertensie nie deur Nando’s geskep of goedgekeur is nie,” het die groep in ʼn advertensie wat in die staatsbeheerde Herald-koerant gepubliseer is, gesê.

Grafika doen die ronde op sosiale media in Zimbabwe van ʼn advertensie vir Nando’s met die byskrif: Falling for our chicken is risky business [Dis gevaarlik om te val vir ons hoender]. Onder die byskrif is ʼn silhoeëtte van Mugabe waar hy vroeër vandeesmaand op die rooitapyt by Harare Internasionale Lughawe val.

Nando’s het gesê die advertensie kom neer op misbruik van sy handelsmerk en hy distansieer homself van die materiaal.

Nando’s Suid-Afrika moes in 2011 ʼn televisieadvertensie onttrek wat die gek geskeer het met Mugabe as “die laaste diktator wat nog staande bly”. Die groep het in daardie stadium gesê van sy personeellede het dreigemente ontvang.

Mugabe se regerende party hou vol sy president het op 4 Februarie oor “ʼn hobbel” op die mat gestruikel. Staatsveiligheidsbeamptes wou fotograwe dwing om die foto’s uit te vee, maar van die foto’s het tog uitgelek en het soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei waar die 90-jarige president in komiese tonele uitgebeeld is.

Jonathan Moyo, minister van inligting, het verlede week gesê die voorval het owerhede geleer dat hulle die kameras moes gekonfiskeer het.

“Ons doen ʼn beroep op ons aanhangers en klante om nie die advertensie te deel onder die wanindruk dat dit ʼn skepping of produk van Nando’s is nie,” het Nando’s Zimbabwe gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.