Nasa en SpaceX lanseer eerste kommersiële ruimtevaart

(Foto: SpaceX/Twitter)

SpaceX en Nasa het Sondag vier ruimtevaarders in ʼn Crew Dragon-kapsule op ʼn Falcon 9-vuurpyl na die Internasionale Ruimtestasie (ISS) gelanseer.

Die Crew Dragon-kapsule is die eerste ruimtetuig wat privaat besit en bedryf word om deur Nasa goedgekeur te word vir menslike ruimtevaart.

Michael Hopkins, Victor Glover en Shannon Walker, ruimtevaarders van Nasa, gaan saam met Soichi Noguchi, ruimtevaarder van die Japanse ruimteagentskap (Jaxa), ʼn ses maande lange wetenskaplike missie aan boord die ISS onderneem.

“Die terugkeer van menslike ruimtevaart deur die Verenigde State met een van die veiligste en mees gevorderde stelsels wat ooit gebou is, is ʼn keerpunt vir Amerika se toekomstige verkenningsinisiatiewe en dit lê die grondslag vir soortgelyke missies na die Maan, Mars en verder,” lui ʼn verklaring van SpaceX.

Die Crew Dragon sou aanvanklik Saterdag vertrek het, maar onstuimige weertoestande weens orkaan Eta het lanseerbeamptes gedwing om dit tot Sondag uit te stel.

Elon Musk, uitvoerende hoof van SpaceX en Tesla, het ook Vrydag op Twitter gesê dat hy vier keer vir Covid-19 getoets is ná hy glo matige simptome opgemerk het.

SpaceX en Nasa het kontakopsporing gedoen en vasgestel dat Musk nie in aanraking was met enige noodsaaklike personeel of ruimtevaarders nie.

“Ons ruimtevaarders is al vir weke in kwarantyn en het nie in kontak gekom met enige iemand nie,” het Jim Bridenstine, Nasa-hoof, Vrydag gesê.

(Foto: SpaceX/Twitter)

Crew Dragon is omstreeks 19:27 vanaf die Kennedy-ruimtesentrum gelanseer. Die bemanning sal 27 uur in die aarde se wentelbaan deurbring, terwyl die ruimtetuig stadig na sy bestemming beweeg. Die kapsule sal na verwagting 23:00 Maandagaand outomaties aan die ISS vasheg.

“Dit is nie vir my moontlik om trotser as wat ek nou is te wees op die werk wat ons vandag hier gedoen het nie,” het Gwynne Shotwell, president en bedryfshoof van SpaceX, gesê.

Die Crew-1-missie is die eerste van ses bemanningsmissies wat deel vorm van Nasa en SpaceX se kommersiële bemanningsprogram.

“Om hierdie missie te beleef is ʼn spesiale oomblik vir Nasa en die SpaceX-span,” het Steve Stich, bestuurder van Nasa se kommersiële bemanningsprogram, gesê.

“Ons sien uit om die bemanning by die stasie te kry om ons belangrike werk voort te sit.”

Volgens Nasa sal die bemanning by verskeie wetenskaplike studies betrokke raak sodra hulle land.

Een van die studies behels mikroskyfies met weefsel wat die struktuur en funksie van menslike organe naboots en wat ten doel het om die rol van mikrogravitasie op die menslike gesondheid te verstaan.

Hulle sal ook radyse in verskillende soorte lig en grond laat groei as deel van die voortdurende pogings om voedsel in die ruimte te produseer.

Hopkins, Glover, Walker en Noguchi sal by die bemanning van Ekspedisie 64 aansluit. Sergey Ryzhikov, bevelvoerder van die Russiese ruimteagentskap Roscosmos, en Sergey Kud-Sverchkov, vlugingenieur van Roscosmos, asook Kate Rubins, vlugingenieur van Nasa, sal die span verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Mad Mike die Rhodesiër

En so gaan die mensdom verder vooruit…