Nasa se lansering van vuurpyl weer uitgestel

Lede van die media wag Saterdag op die lansering van Nasa se vuurpyl. (Foto: Kevin Dietsch via Getty Images via AFP)

Nasa het Saterdag sy tweede poging om sy kragtige vuurpyl nóg vir ’n toetsvlug om die maan te lanseer laat vaar nadat ingenieurs ʼn brandstoflek ontdek het.

Terwyl sowat 400 000 mense vandag op nabygeleë strande in die Amerikaanse deelstaat Florida gretig op die lansering gewag het, het ingenieurs ʼn lek naby die basis van die vuurpyl opgespoor terwyl ultra-koue vloeibare waterstof ingepomp is.

“Die lanseringsdirekteur het afstand gedoen van vandag se Artemis 1-lansering,” het Nasa ’n kort ruk gelede in ’n verklaring laat weet. “Verskeie pogings om die lekkasie gestop te kry het nie die probleem opgelos nie.”

Charlie Blackwell-Thompson, lanseringsdirekteur, het vroeg vanoggend beveel dat die vuurpyl se tenks met kriogeniese brandstof gevul moet word. Sowat drie miljoen liter ultra-koue vloeibare waterstof en suurstof is gevolglik ingepomp, maar probleme het nietemin gou opgeduik.

Lede van die media wag Saterdag op die lansering van Nasa se vuurpyl. (Foto: Gregg Newton / AFP)

Die eerste poging het Maandag ook misluk toe ’n enjinprobleem Nasa genoop het om die toetsvlug te kanselleer.

Dit is nie in dié stadium duidelik wanneer die lansering nou sal plaasvind nie – moontlik Maandag of Dinsdag. In die vuurpyl nie teen Dinsdag gelanseer word nie, sal die lansering eers ná 19 September kan plaasvind weens die maan se posisie.

Die onbemande toetsvlug maak deel uit van die Artemis 1-missie en dieselfde soort vuurpyl is ook gebruik om die Apollo 11-kapsule met drie ruimtevaarders in 1969 na die maan te stuur. Toetspoppe is met sensors toegerus om tydens die onbemande toetsvlug versnelling, vibrasie en stralingsvlakke aan te teken.

Maroela Media het vroeër berig dat die Orion-bemanningskapsule deur ʼn SLS-vuurpyl aangedryf word. Indien die toetsvlug suksesvol is, sal ruimtevaarders weer in 2024 na die maan gestuur word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dirk ·

Jy is seker van daardie mense wat glo die aarde is plat? Of is jy van daai wat glo die aarde is net ‘n paar duisend jaar oud?
Net omdat jy nie kan verstaan hoe die goed werk nie beteken nie dat die het nie gebeur nie. Alle bewyse is daar dat die maanlanding plaas gevind het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.