Nasa-tuig dalk later dié week gelanseer

Die SLS-vuurpyl is toe nie Maandag gelanseer nie. (Foto: Nasa)

ʼn Enjinprobleem het Nasa Maandag genoop om die beplande lansering van sy kragtigste vuurpyl nóg vir ʼn 42 dae lange toetsvlug om die maan te kanselleer. Nasa sal dalk Vrydag weer probeer om dié vuurpyl die lug in te stuur.

“Ons gaan nie voort met die lansering nie voordat alles nie reg is nie,” het Bill Nelson, administrateur by Nasa, Maandag by die Kennedy-ruimtesentrum in Florida oor die kansellering van dié vlug gesê.

“Dit is ʼn baie ingewikkelde projek. Jy wil nie die kers aansteek totdat dit gereed is om te gaan nie.”

Maroela Media het vroeër berig dat die Orion-bemanningskapsule deur ʼn SLS-vuurpyl aangedryf word. Indien die toetsvlug suksesvol is, sal ruimtevaarders weer in 2024 na die maan gestuur word.

Die onbemande toetsvlug vorm deel vorm van die Artemis 1-missie en dieselfde soort vuurpyl is ook gebruik om die Apollo 11-kapsule met drie ruimtevaarders in 1969 na die maan te stuur.

Toetspoppe is met sensors toegerus om tydens die onbemande toetsvlug versnelling, vibrasie en stralingsvlakke aan te teken.

Mike Sarafin, sendingbestuurder van Artemis 1, sê Nasa vergader Dinsdag met sy bestuurspan en behoort dan te kan sê of Vrydag ʼn haalbare datum vir die toetsvlug is.

“Ons het net ’n bietjie tyd nodig om na die data te kyk,” het Sarafin gesê.

Maandag 5 September word ook as ʼn alternatiewe datum vir die lansering oorweeg.

Derduisende mense het oor die naweek van so ver as Engeland na Florida gestroom om Maandag se lansering dop te hou. Die tuig sou om 08:33 (Amerikaanse tyd) vertrek, maar is gekanselleer toe ʼn toets om een van die vuurpyl se vier RS-25-enjins op die regte temperatuur vir lansering te kry, onsuksesvol was.

Nelson meen vertragings is egter “deel van die ruimtebedryf” en sê hy het volle vertroue in Nasa se ingenieurs om die probleem reg te stel sodat die tuig kan vertrek.

“Ons bly verbind tot die Artemis-program en sal terugkeer maan toe,” het Kamala Harris, die VSA se vise-president Maandag op Twitter gesê. Sy het ook na Florida gereis om die lansering dop te hou.

Stan Love, ʼn veteraan Nasa-ruimtevaarder, het aan verslaggewers gesê hy is teleurgesteld, maar “nie regtig verras nie”.

“Hierdie is ’n splinternuwe tuig. Dit het ’n miljoen onderdele. Almal van hulle moet perfek werk.” 

Uiterste temperature  

Operasies oornag om die oranje-en-wit-vuurpyl met ultra-koue vloeibare waterstof en suurstof te vul, is kortliks vertraag deur ’n risiko van weerlig. ʼn Potensiële lek is tydens die opvulproses ontdek, wat ’n onderbreking veroorsaak het.

Ná toetse is die opvulproses hervat. Nasa-ingenieurs het later die enjintemperatuurprobleem opgespoor en besluit om die lansering voorlopig te staak. Die Orion-kapsule moet om die maan wentel om te bepaal of die vaartuig in die nabye toekoms veilig sou wees vir mense.

Een van die hoofdoelwitte is om die kapsule se hitteskild te toets, wat met net meer as vyf meter in deursnee die grootste is wat nog gebou is. By sy terugkeer na die aarde se atmosfeer sal die hitteskild snelhede van 25 000 myl per uur en ’n temperatuur van 2 760 °C moet weerstaan ​​– ongeveer die helfte so warm soos die son.

Bemande sending na Mars

Nasa sal na verwagting $93 miljard tussen 2012 en 2025 aan die Artemis-program bestee, wat reeds jare agter skedule is, teen ’n koste van $4,1 miljard per lansering.

Die volgende sending, Artemis 2, sal ruimtevaarders in ’n wentelbaan om die maan neem sonder om op die oppervlak te land. Die bemanning van Artemis 3 sal op die vroegste in 2025 op die maan land.

Aangesien mense reeds die maan besoek het, het Artemis sy visier op nog ’n verhewe doelwit gerig: ’n bemande sending na Mars. Die Artemis-program het ten doel om ’n blywende menslike teenwoordigheid op die maan te vestig met ’n wentelende ruimtestasie bekend as Gateway en ’n basis op die oppervlak. Gateway sou dien as ’n opstel- en brandstofstasie vir ’n reis na die Rooi Planeet wat ʼn minimum van ’n paar maande sal duur.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Martie Smartie ·

Dis n vreeslike gesukkel selfs met die heel beste tegnologie om selfs net om die maan te wentel. Ek glo nie meer vir een oomblik die Amerikaners het werklik vantevore op die maan geland nie. Een groot nonsens foefie gewees.

ES ·

Ek stem 100% saam met jou. Soveel as wat ek dit wil glo (en geglo het) doen ek nie meer nie. Hulle gebruik verskonings soos die kostes ens. maar dit is nou al 53 jaar later en nie een land of private instelling het al in meer as ‘n halwe eeu weer gepoog om op die maan te land nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

‘n Bekende Hollywood regisseur het alles opgeneem in ‘n ou hanger by ‘n lugmagbasis buite Las Vegas. Daar was tot ‘n kamera op die “maan” om Armstrong se eerste tree af te neem.

Waarnemer ·

Wel ons vertrou maar dat hulle eendag in die verre toekoms n paar koeie op die maan sal he en n kaas fabriek ook daar bou sodat die kinders in die toekoms nie belieg word as daar gese word daar is kaas op die maan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.