Nasa-tuig gereed vir tog na maan

Die SLS-vuurpyl staan gereed om Maandag gelanseer te word. (Foto: Nasa)

Alles is gereed vir Nasa om Maandag sy kragtigste vuurpyl die lug in te stuur vir ʼn 42 dae lange toetsvlug om die maan. Die Orion-bemanningskapsule word deur ʼn SLS-vuurpyl aangedryf. Indien die vlug suksesvol is, sal ruimtevaarders weer in 2024 na die maan gestuur word.

Die onbemande toetsvlug wat deel vorm van die Artemis 1-missie, kom ʼn volle vyf dekades nadat Nasa se legendariese Saturn 5-vuurpyl die Skylab-ruimtestasie in 1973 verlaat en in ʼn wentelbaan om die aarde geplaas is. Dié vuurpyl is ook gebruik om die Apollo 11-kapsule met drie ruimtevaarders in 1969 na die maan te stuur.

Die SLS-vuurpyl sal om 08:30 Amerikaanse tyd by die Kennedy-ruimtesentrum in Florida lanseer word en weervoorspellers sê daar is ʼn 70% kans vir goeie weer, berig die nuuskanaal CBS. Indien alles goed gaan sal die kapsule op 10 Oktober in die Stille Oseaan neerplons.

Volgens inligting op Nasa se webwerf is die vuurpyl amper ʼn 100 meter hoog en weeg amper drie miljoen kilogram.

Die vuurpyl het Sondag reeds op die platform gereedgestaan vir lansering en mense van so ver as Engeland het oor die naweek na Florida gestroom om die lansering dop te hou. Volgens AFP word tussen 100 000 en 200 000 toeskouers Maandag verwag.

“Dit is ʼn sonderlinge geleentheid hierdie,” het Joanne Bostandii, ʼn 45-jarige ma van Engeland gesê. Sy en haar gesin het die hele ent van die noorde van Engeland gereis en beplan om Maandagoggend baie vroeg ʼn plek op Cocoa-strand te vind om die lansering van daar af dop te hou. Die strand is naby die ruimtesentrum geleë.

Bill Nelson, administrateur van Nasa, het die uniekheid van hierdie gebeurtenis beaam. “Hierdie is nie roetine nie. Dis is ʼn groot gebeurtenis, en dit is pragtig. Die grote van hierdie ding oorweldig ʼn mens.”

Die naam Artemis verwys na die Griekse godin Artemis, Apollo se tweelingsuster. Die missie het ten doel om die eerste vrou en die eerste persoon van kleur op die maan te plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Antie Sarie ·

Wonder of die president die keer ook gaan bel om te hoor hoe gaan dit daar. Dalk met n rekenaar gesels. lol

Martie Smartie ·

Hoe meer ek na NASA en Elon Musk luister, hoe meer is ek oortuig daarvan dat die sg maanlanding in 1969 nie werklik plaasgevind het nie en net ‘n foefie was. Die Amerikaners is absoluut afhanklik vd Russe om te dok by die internasionale ruimtestasie en begin nou eers planne maak om minder afhanklik te raak. Die Russe was nie op die maan nie en is ver vooruit in ruimte-tegnologie. En om te glo dat die Amerikaners regtig op die maan was, raak vir my te dik vir ‘n daalder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.