Natuurkenner se debuut op Instagram laat rekord spat

‘n Jong sir David Attenborough op een van sy reise. (Foto: ‘n Skermskoot uit die Netflix-dokumentêr “A Life on Our Planet”.)

Dit het minder as vyf uur geduur vir sir David Attenborough om ʼn miljoen nuwe volgelinge op Instagram te kry.

Hiermee het Brittanje se gerespekteerde 94-jarige natuurkenner daarin geslaag om Jennifer Arniston se rekord met 32 minute te klop. Die aktrise het in Oktober 2019 vyf miljoen volgelinge in 12 uur gekry nadat sy ʼn selfie van haar en mede-akteurs uit die gewilde TV-reeks Friends geplaas het.

Dwayne “The Rock” Johnson is vroeër vanjaar as Instagram se hoogsbetaalde bekende aangewys. Hy het 189 miljoen volgelinge op dié platform en kan $1 miljoen (ongeveer R17 miljoen) vir ʼn enkele advertensie-plasing op sy Instagram-rekening ontvang.

Attenborough het aan die BBC gesê dié prestasie gee hom “belangrike hoop” vir die toekoms te midde van toenemende kommer oor die vernietiging van die natuur en ʼn dreigende onomkeerbare klimaatsverandering.

Hy glo jong mense is in die beste posisie om verandering te bewerkstellig. “Dit is hulle wêreld, en dit is hulle môre. Ek sal nie daar wees nie. Hulle sal wel daar wees,” het Attenborough gesê. Hy het ook bygevoeg dat hy bevoorreg voel dat gebruikers van die platform waarvan 70% jonger as 35 is, belangstel in goed “waaroor ʼn ou persoon soos ek wil praat”.

Sy video op Instagram se IGTV het reeds byna 17 miljoen trefslae terwyl sy rekening self amper vyf miljoen volgelinge het.

Attenborough het gesê hy is bereid om enige medium te gebruik om sy boodskap oor omgewingsake te versprei.

“Ons het ʼn verantwoordelikheid,” het hy gesê terwyl hy ʼn beroep op mense gedoen het om nie kos of elektrisiteit te vermors nie en om die natuur te respekteer.

Attenborough publiseer egter nie self sy inskrywings op Instagram nie. “Sosiale media is net nie ʼn gewoonte van David nie,” skryf sy medewerkers wat die Netflix-dokumentêr A Life on Our Planet se rekening bestuur, maar hy het belowe om ʼn reeks video’s vir Instagram oor die toekoms van die planeet in die komende weke op te neem.

Sy debuut op Instagram is wyd verwelkom. “Nie alle helde dra mantels nie,” het een gebruiker geskryf en ʼn ander het gevra hy moet ook video’s op TikTok plaas.

Attenborough het verlede week die hertog en hertogin van Cambridge, prins William en Catherine, en drie van sy grootste aanhangers, hul kinders prins George, prinses Charlotte en prins Louis, ontmoet.

Prins William het by Attenborough aangesluit vir ʼn private vertoning van sy nuwe Netflix-dokumentêr, wat die veranderinge ondersoek wat mense in die wêreld aangebring het.

“Hierdie rolprent is my getuienisverklaring en my toekomsvisie,” sê Attenborough in die lokprent. Dit vertel die verhaal van sy lewenswerk in die natuur te en wat die wêreld moet doen om dekades van verwoestende skade om te keer.

Attenborough is saam met die jong koninklike gesin afgeneem en het daarna vir die sewejarige prins George ʼn versteende haaitand gegee wat hy tydens ʼn vakansie in die 1960’s in Malta gekry het.

Die prins het heelwat belangstelling getoon in dié tand wat aan ʼn uitgestorwe megatandhaaispesie behoort het. Attenborough het self as jong kind fossiele versamel voordat hy ʼn loopbaan as een van Brittanje se suksesvolste wetenskaplike vertellers begin het.

Jose Herrera, die Maltese minister van kultuur, het Maandag ná die uitreiking van die foto’s waar die prins betowerd na die tand kyk, gesê die land sal graag die prehistoriese skat wil terughê. Hy het aan Times of Malta gesê hy sal die bal aan die rol kry om te verseker die tand keer terug na sy oorspronklike tuiste.

Attenborough het gesê hy het die afsonderingstyd in Brittanje omgekry deur na voëls te luister terwyl hy in sy tuin gesit het. Hy meen talle mense het nou skielik in die pandemie weer opnuut besef watter soort diep vreugde daar is om die natuurlike wêreld te aanskou.

View this post on Instagram

David Attenborough has spent a lifetime travelling, exploring the wild places of our planet and documenting the living world in all its variety and wonder. He’s also witnessed the damaged caused. Saving our planet is now a communications challenge. We know what to do, we just need the will. That’s why we want to share this message on Instagram. Because there is hope and together, we can inspire change. Social media isn’t David’s usual habitat so while he’s recorded messages solely for Instagram, like the one in this post, we're helping to run this account. In case you’re wondering, ‘we’ are Jonnie and Colin and we worked with David on A Life On Our Planet. So, as well as sharing the messages he’s recorded especially for this account we’ll also post some exclusive clips and behind the scenes content. Stay tuned.

A post shared by A Life On Our Planet (@davidattenborough) on

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Vrijburger

Een van die min mense in die wereld wat wel graag sal wil ontmoet.

Christi

Dwayne Johnson het sekerlik nie 189 volgelinge nie, Maroela?