Navalny keer naweek terug na Rusland

Alexei Navalny vroeër in die hospitaal. (Foto: Instagram)

Die Russiese opposisieleier en aktivis, Alexei Navalny, sal na verwagting Sondag eindelik na Rusland terugkeer nadat hy in Augustus verlede jaar vermoedelik vergiftig is.

Dit volg nadat die Russiese owerhede Maandag ʼn hof in Moskou gevra het om ʼn opgeskorte vonnis wat Navalny in 2014 ontvang het, na tronkstraf om te skakel.

Die owerhede voer aan Navalny het sy vonnisvoorwaardes oortree deur in die buiteland te bly nadat hy in September uit ’n hospitaal in Berlyn ontslaan is.

Navalny was die afgelope vyf maande in Duitsland waar hy sedert die beweerde aanslag op sy lewe behandeling ondergaan het.

“Dit was nie my keuse om na Duitsland te kom nie… Ek het hier beland omdat hulle my probeer doodmaak het,” het die opposisieleier intussen in ’n video op sy Instagram-blad gesê.

Die opposisieleier sê in die video hy is “amper gesond”.

Navalny het in Augustus skielik op ’n vlug van Siberië na Moskou begin siek voel waarna hy in ’n hospitaal in die Russiese stad Omsk opgeneem is. Hy is daarna in ʼn kunsmatige koma na ’n hospitaal in Berlyn oorgeplaas.

Die Duitse regering het later gesê Navalny is met die dodelike senumiddel Novichok vergiftig. Novichok is dieselfde soort gif wat die voormalige spioen Sergei Skripal en sy dogter destyds in Engeland ingekry het. Pa en dogter het dié aanval wonderbaarlik oorleef.

Navalny, ʼn teenkorrupsie-ondersoekbeampte en een van pres. Wladimir Poetin se vernaamste en mees uitgesproke kritici, dring sedertdien daarop aan dat die aanval deur Rusland se hoofveiligheidsagentskap, die Federale Veiligheidsdiens (FSB), in opdrag van Poetin uitgevoer is.

Die Kremlin ontken dit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JM ·

As ek Navalny was, sou ek nie na Rusland teruggekeer het nie. Wat verhoed die Russe om hom weer te probeer vermoor?

Anel ·

En hy keer terug na Rusland! Hie dom kan mens wees. Kry asiel in ander land. Hulle gaan hom net weer probeer doodmaak en dalk slaag hulle die tweede keer.

mynie ·

Kom Suid Afrika toe. Ons gee graag asiel. Jy sal met ope arms verwelkom word.

Leeuwyfie ·

Dit gaan nie oor asiel nie. Hy kan gaan bly waar hy wil. Hy is daar om sy doelwit te bereik en verstaan die gevare. Ek ken nie enige iets wat daar aangaan nie, so ek kan glad nie ‘n mening gee of kant kies nie, maar mens noem so iemand, iemand met ‘n dubbele ruggraat.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.