Navalny sal terugkeer na Rusland

Alexei Navalny en sy gesin in die hospitaal in Berlyn, Duitsland. (Foto: Instagram)

Die Russiese opposisieleier Alexei Navalny het Dinsdag ’n foto van homself en sy gesin in die hospitaal in Duitsland, waar hy die afgelope drie weke behandel word, op sosiale media gedeel.

“’Hallo, dit is Navalny,” het hy in ’n Russiese inskrywing op Instagram geskryf. “Ek het julle gemis. Ek kan nog steeds amper niks alleen doen nie, maar kon gister heeldag op my eie asemhaal. ”

Die opposisieleier is sowat ’n week gelede uit ’n medies geïnduseerde koma gebring nadat hy verlede maand vermoedelik voor ’n vlug na Moskou vergiftig is.

Hoewel die Kremlin deur Navalny se span van sy vergiftiging verdink word, het Kira Yarmysh, Navalny se woordvoerder, intussen bevestig dat hy beslis ná sy siekbed na Rusland sal terugkeer.

“Geen ander opsie is ooit oorweeg nie,” het sy getwiet.

Maroela Media het vroeër berig die Duitse regering het intussen gevra dat laboratoriums in Frankryk en Swede onafhanklike toetse doen om te bevestig dat Navalny vergiftig is.

Dié laboratoriums steun vroeëre bevindings van ’n Duitse militêre laboratorium dat Navalny met die dodelike senumiddel Novichok vergiftig is. Dit is dieselfde tipe senumiddel uit die Sowjet-era wat gebruik is in ’n aanval op ’n voormalige Russiese spioen in 2018.

Dmitry Peskov, woordvoerder van die Kremlin, het Dinsdag aan verslaggewers gesê Rusland is verbaas dat die Duitsers weier om Navalny se toetse en ander mediese gegewens te deel of aantekeninge met die Russiese dokters te vergelyk wat aanvanklik geen spoor van gif in sy stelsel gevind het toe hy in ‘n hospitaal in Omsk behandel is nie.

Volgens Peskov is Rusland bereid om saam met Duitsland te werk om uit te vind wat presies met Navalny gebeur het.

Navalny is een van pres. Wladimir Poetin se vernaamste en mees uitgesproke kritici. Hy is ook ʼn prokureur en aktivis teen korrupsie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Fubar

Ek is bly die ou is gesond.

annie

… en nou moet die hele Rusland opdaag en in opstand kom teen die wrede Poetin wat die wèreld bedreig… Ons hoop ons ex-vergiftigde-prez Zuma sal ook daar wees om hom terug te verwelkom en sy inhuldiging as die nuwe tzar, in pels en diamante beklee, by te woon… twee voèls van enerste vere… My hart bloei.