Navorsers delf diep om uitwerking van klimaat op walvisse te verstaan

‘n Boggelrugwalvis. (Foto: Kenneth Findlay)

Drie Suid-Afrikaanse universiteite is betrokke by die wêreld se eerste navorsingsprojek om te probeer verstaan hoe die veranderinge in die oseaan die herstel van die boggelrugwalvisbevolking in die Suidelike Halfrond beïnvloed.

Gedurende die vorige eeu is boggelrugwalvisse erg uitgedun deur hedendaagse walvisvangpraktyke, met meer as 220 000 van dié walvisse wat tussen 1904 en 1972 gevang is. Sedert beskermingsmaatreëls in die 1960’s en 1970’s ingestel is, het sekere bevokings se getalle begin herstel.

Prof. Alakendra Roychoudhury, omgewingsgeochemikus by die Departement Aardwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US), sê dat die grootste deel van die Suidelike Yssee nog nie bestudeer is nie en dat seisoen- en langtermynwaarnemings van hierdie wyd uitgestrekte oseaan benodig word.

“ʼn Tekort aan empiriese data veroorsaak ʼn skewe prentjie in klimaatmodelle en skep onsekerheid,” sê hy. “Onlangse waarnemings van wisseling in koolstofdioksiedvlakke dui op ʼn verandering in gedrag van die Suidelike Yssee. Dit is aansienlik anders as wat ons tot dusver op grond van klimatologie en satellietdata kon vasstel.”

Volgens prof. Ken Findlay, walvisdeskundige aan die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie (KSUT), doen die projek baanbrekerswerk in die kombinering van historiese en meer onlangse langtermyndatastelle met toekomstige scenario’s in verskeie streke in die Suidelike Halfrond.

Die navorsingspan van KSUT gaan na verwagting nog dieper in hierdie datastelle delf. “Ons hoop om variasies in seisoenale toeloop en die verspreiding van walvisse te identifiseer en verbande te trek tussen hierdie waarnemings en die veranderinge in die oseanografie en biochemie wat oor dieselfde tydperk in die Suidelike Yssee plaasvind,” sê Findlay.

Prof. Marcello Vichi, oseanograaf aan die Universiteit van Kaapstad (UK), sê die kombinasies van hierdie datastelle is ʼn kragtige hulpmiddel om die verspreiding van walvisse te verstaan. Dit sal ook verskeie klimaatmodelle bevestig.

“Die gelyktydige gebruik van oseaanmodelle en walviswaarneming-netwerkgroepe kan ons help om die onlangse groot versameling van boggelrugwalvisse, ook genoem supergroepe, wat ons langs die Wes-Kaapse kus opgemerk het, te verstaan.”

Die ses jaar lange Walvis-en-Klimaatnavorsingsprogram sal ʼn wesenlike begrip vestig oor hoe oseaantoestande die getalle van boggelrugwalvisbevolkings beïnvloed, sê prof. Brendan Mackey, direkteur van die Griffith Klimaatsverandering-responsprogram aan die Griffith Universiteit in Australië.

“Klimaatverandering is drasties besig om ekosisteme te verander en ons oseane ondergaan ook veranderinge wat mariene lewe beïnvloed,” sê hy. “Die projek sal aanpassingscenario’s ontwikkel vir die bevordering van walvisbeskermingsbeleidstellings en -programme.”

Oor die afgelope dekade het die belangrike rol wat walvisse as ekosisteemingenieurs speel ook aan die lig gekom.

“Navorsing toon dat tandlose walvisse ʼn integrale rol speel om die boonste 80 m van die oseaan te herbemes − die fotiese sone waar ligdeurdringing primêre produktiwiteit dryf,” sê dr. Olaf Meynecke, walvisnavorser aan die Griffith Universiteit.

“Walvisse dien ook as hersirkuleerders deurdat hulle die ystermikronutriënte tot die boonste gedeelte van die oseaan beperk, aangesien hulle van die ysterryke Antarktiese planktonkrefies leef.”

Die navorsingspanne van Brasilië, Chili, Ecuador en Panama sal die gedetailleerde beweging van die boggelrugwalvisbevolking aan die Suid-Amerikaanse weskus ondersoek. Gedurende die suidelike somer migreer hierdie bevolkings na die koue waters van suidelike Chili en die Antarktiese Skiereiland. Die westelike Antarktiese Skiereiland het egter ʼn drastiese toename in hitte beleef wat moontlik die ekosisteem raak, sê prof. Eduardo Secchi, medenavorser verbonde aan die Federale Universiteit van Rio Grande.

Verskeie navorsingsvaarte en veldwerk in die weivelde en teelplekke van die boggelrugwalvisse in Antarktika en die kuslyne van Australië, Afrika en Suid-Amerika is geskeduleer deur die loop van die projek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.