Navorsers ontdek ‘noordelikste’ eiland ter wêreld

Morten Rasch op die landmassa wat hulle vermoed die noordelikste ter wêreld is. (Foto: Morten Rasch/Facebook)

Wetenskaplikes het ʼn landmassa ontdek wat hulle vermoed die noordelikste ter wêreld is.

Die landmassa wat nog nie ʼn naam het nie, is ʼn eiland noord van Groenland en kan moontlik binnekort in die see verdwyn.

Navorsers het tydens ʼn ekspedisie in Julie op die landmassa afgekom en aanvanklik gedink dat hulle Oodaaq – tot dusver die noordelikste eiland op die planeet – bereik het.

“Ons is meegedeel dat daar ʼn fout op my GPS was wat ons laat glo het dat ons op die Oodaaq-eiland staan,” sê Morten Rasch, hoof van die ekspedisie en ʼn wetenskaplike verbonde aan die Universiteit van Kopenhagen se departement geowetenskappe en natuurlikehulpbronbestuur.

“In werklikheid het ons ʼn nuwe eiland verder noord gevind, ʼn ontdekking wat die koninkryk van Denemarke effens uitbrei.”

Oodaaq is ongeveer 700 km suid van die Noordpool geleë. Die nuwe eiland is 780 m noord van Oodaaq geleë.

Die Universiteit van Kopenhagen het Vrydag in ʼn verklaring gesê die “eiland wat nog nie ʼn naam het nie, is… die noordelikste punt van Groenland en een van die noordelikste punte van land op aarde.”

Die eiland is egter slegs 30 tot 60 meter bo seespieël en kan volgens Rasch slegs vir ’n kort tydperk ’n eiland wees.

“Niemand weet hoe lank dit sal bestaan nie. In beginsel kan dit verdwyn sodra ʼn kragtige nuwe storm toeslaan.”

Die outonome Deense gebied van Groenland was die afgelope paar jaar in die nuus, veral in 2019 toe die Donald Trump, voormalige Amerikaanse president, gesê het dat hy dié Arktiese gebied wil koop.

Die voorstel, wat deur die Deense regering as absurd bestempel is, het ʼn diplomatieke onenigheid veroorsaak maar ook het hernude Amerikaanse belangstelling in die streek tot gevolg gehad.

Die gebied is swaar getref deur klimaatsverandering, aangesien warmer temperature die gletsers laat smelt het en bygedra het tot besorgdheid oor ʼn stygende seevlak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

groenboer ·

“…daar is geen nuwe oord om heen te gaan, want kyk, daar lê reeds spore op die maan…”

-Koos du Plessis

:-)

Jaco ·

Ek sien Donald Trump wou Groenland koop. Hy is mos baie ryk. Ek wens hy wil die Wes-Kaap by SA koop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.