Nazi-wag (101) vervolg vir oorlogsmisdade

Josef Schütz versteek sy gesig tydens ’n vorige hofverskyning verlede jaar. (Foto: Tobias Schwarz / AFP)

’n Duitse hof sal Dinsdag uitspraak lewer in die verhoor van ’n 101-jarige voormalige Nazi-konsentrasiekampwag. Josef Schütz is die oudste persoon nóg toe aangekla word van aandadigheid aan oorlogsmisdade tydens die Joodse menseslagting.

Maroela Media het vroeër berig dat Schütz daarvan beskuldig word dat hy tussen 1942 en 1945 “willens en wetens” medepligtig was aan die moord op 3 518 gevangenes in die Sachsenhausen-konsentrasiekamp in Oranienburg, noord van Berlyn.

Die pensioenaris, wat nou in die staat Brandenburg woon, het onskuldig gepleit en gesê hy het “absoluut niks” gedoen nie. Hy voer verder aan dat hy nie bewus was van die gru-misdade wat by dié kamp uitgevoer is nie.

“Ek weet nie hoekom ek hier is nie,” het hy Maandag tydens die afsluiting van sy verhoor gesê.

Meer as 200 000 mense, onder wie Jode, nomade, teenstanders van die regime en homoseksuele, is tussen 1936 en 1945 by die Sachsenhausen-kamp aangehou.

Volgens die Sachsenhausen-gedenkteken en -museum het tienduisende gevangenes weens dwangarbeid, moord, mediese eksperimente, honger of siekte gesterf voordat die kamp deur Sowjet-troepe bevry is.

Die aantygings teen Schütz sluit in bystand met die “teregstelling deur vuurpeloton van Sowjet-krygsgevangenes in 1942” en die moord op gevangenes “met behulp van die giftige gas Zyklon B”.

Hy was toe 21 jaar oud.

Teenstrydige stellings

Schütz het tydens sy verhoor verskeie teenstrydige uitsprake oor sy verlede gemaak en gekla dat sy kop “deurmekaar raak”.

In ’n stadium het hy gesê dat hy vir die grootste deel van die Tweede Wêreldoorlog as ’n landbouarbeider in Duitsland gewerk het – ’n bewering wat weerspreek word deur verskeie historiese dokumente wat Schütz se naam, geboorteplek en -datum bevat.

Ná die oorlog is Schütz na ’n gevangeniskamp in Rusland oorgeplaas voordat hy na Duitsland teruggekeer het, waar hy as boer en slotmaker gewerk het.

Schütz se verhoor het in 2021 begin en is verskeie kere weens sy gesondheid uitgestel. Hy was nie gedurende die verhoor in aanhouding nie.

Sou hy skuldig bevind word, is dit hoogs onwaarskynlik dat hy agter tralies geplaas sal word gegewe sy ouderdom.

Volgens Schütz se regsverteenwoordiger, Stefan Waterkamp, beoog sy kliënt om teen ʼn skuldigbevinding te appelleer.

Meer as sewe dekades ná die Tweede Wêreldoorlog jaag Duitse aanklaers om die laaste oorlewende Nazi-oortreders voor die gereg te bring.

Die 2011-skuldigbevinding van die voormalige wag John Demjanjuk, op grond daarvan dat hy as deel van Adolf Hitler se “moordmasjien” gedien het, het ’n wetlike presedent geskep en die weg gebaan vir verskeie soortgelyke sake.

Sedertdien het howe verskeie skuldigbevindings op dié gronde gelewer eerder as vir moorde of gruweldade wat direk met die individuele beskuldigde verband hou.

‘Morele verantwoordelikheid’

Onder diegene wat later skuldig bevind is, is Oskar Groening, ’n rekenmeester by Auschwitz, en Reinhold Hanning, ʼn voormalige SS-wag by Auschwitz. Albei is op die ouderdom van 94 skuldig bevind aan aandadigheid aan massamoord, maar het gesterf voordat hulle tronk toe gestuur kon word.

Nog ʼn voormalige SS-wag, Bruno Dey, is in 2020 in die ouderdom van 93 skuldig bevind en is ’n opgeskorte vonnis van twee jaar opgelê. In die Noord-Duitse dorp Itzehoe staan ​​’n 96-jarige voormalige sekretaris in ’n Nazi-doodkamp tereg op aandadigheid aan moord. In ʼn dramatiese wending het dié vrou kort voor die aanvang van haar verhoor gevlug, maar sy is etlike ure later aangekeer.

Terwyl sommige mense die nut daarvan bevraagteken om skuldigbevindings in verband met Nazi-misdade so lank ná die gebeure na te jaag, meen ander dat dit ʼn belangrike boodskap uitstuur.

Guillaume Mouralis, ’n navorsingsprofessor aan Frankryk se Nasionale Sentrum vir Wetenskaplike Navorsing (CNRS), sê “dit is ’n kwessie van herbevestiging van die politieke en morele verantwoordelikheid van individue in ’n outoritêre konteks (en in ’n kriminele regime)”.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Elise Georgina Irene ·

Dit is darem nou belaglik!!! 101 jarige… ! Dit was seer sekerlik aaklige en haatlike dinge wat die Nazi’s gedoen het…maar ‘n 101 jarige nou vervolg is netso haatig!

Twallie ·

Regtig bietjie oorbodig. Die ou gaan nie meer lank lewe nie.

Uiters belaglik.

Toy ·

Sjoe dis vreeslik om iemand van 101 jaar nou aan te kla, die oom is regtig op geleende tyd. Dit is regtig nou belaglik.

Patch ·

Ek is tussen twee vure… Ja, die Nazi’s se dade is onvergeeflik maar wat word bereik deur mense oor 90 jaar voor die hof te daag. Hulle gaan nie eers tronk toe nie. Ek dink hul gewetes het hul vir 70 jaar gevange gehou. Hulle het ook maar net op opdrag gemoor en moet nou aan die kortste end trek want die grootkoppe het al almal die wêreld gegroet.

Sandra ·

Ek kan nie eens onthou wat ek verlede jaar die tyd gedoen het nie. Maar die ironie is dat indien hy dit gedoen het waarvan hy beskuldig word, en hy het ‘n gewete, het God hom ‘n rype 101 jaar laat bereik om aan sy sondes te dink.

Dries ·

Belaglik belaglik. Die man het geen uitvoerende mag gehad nie. Hy het gedoen wat Hitler van hom verwag het anders was hy doodgemaak

Brandwag ·

Nou wanneer word die engelse verhoor vir hulle konsentrasie kampe.

Vexed ·

Wat gebeur moet gebeur maar moet nie se dit is om ‘n boodskap uit te stuur na kriminele regimes nie. Dit stop nie ons regime nie en sal ook nie in die toekoms nie. Almal is net te oortuig van hulleself.

Meisie ·

Lyk my die duitsers is verveeld, daar is seker dan nie enige ander misdaad wat belangriker as die is nie?
Arme oomie man, hy gaan in elk geval nie tronk toe nie so wat maak dit dan ‘n verskil?

Niklaas ·

Ek dink hierdie hof verskyning van die oom is slegs daarop gemik om vir die rekords , ‘n skuldige aan te toon. Nie om hom in die tronk op te sluit nie.

Johan ·

Vir my is daar een groot probleem met die Nazi kamp storie naamlik die sin “Sowjet-troepe bevry is” die rooi weermag het nie bevry nie hulle het gulag toe gestuur waar BAIE, BAIE, BAIE meer mense dood gewerk is. Maar dit is seker okay.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.