Nederland deels aanspreeklik vir Bosniese massamoord

BosniëDie Nederlandse staat is verantwoordelik vir die deportasie van 300 Moslemmans na die val van die Bosniese enklawe, Srebrenica, in 1995, het ‘n Nederlandse hof in Den Haag bevind.

Die Moslems is op 13 Julie deur ‘n militêre eenheid onder die leiding van Ratko Mladic weggevoer.

Na raming is tussen 7 000 en 8 000 Moslemmans en -seuns deur hierdie magte vermoor, in wat beskryf word as die ergste geval van ‘n oorlogsmisdaad sedert die Tweede Wêreldoorlog.

‘n Nederlandse kontingent van 400 vredesoldate, bekend as Dutchbat, is deur die VN verantwoordelik gemaak om Srebrenica as veilige hawe vir die Moslems te handhaaf. Mladic se manskappe het die gebied egter sonder weerstand oorgeneem, en die wegvoer en massaslagting het begin. Duisende Moslems het in die basis van Dutchbat skuiling gaan soek, maar is na ‘n paar dae deur Dutchbat uit die basis gesit.

‘n Nasionale debat het hierna in Nederland ontstaan oor wat baie as die “lafhartigheid van die Nederlandse soldate” beskou het. Daar is onder meer in ‘n ondersoek bevind dat baie soldate aansluit sonder dat hulle ooit oorweeg het dat hulle in gevaarlike situasies of werklike konflik kan beland. Die sielkundige druk op die Nederlanders is verhoog deur destydse onthullings oor wreedhede wat Nederland tydens die koloniale era in Indonesië gepleeg het.

Naasbestaandes wou Nederland verantwoordelik hou vir die dood van almal wat vermoor is, na die enklawe oorgeneem is wat onder die Nederlanders se sorg geplaas was.

Die hof het egter besluit dat Nederland nie verantwoordelik gehou kan word vir die val van Srebrenica nie en is slegs skuldig bevind daaraan dat 300 Moslemmans gedeporteer is, en so aan lewensgevaar blootgestel is. Die hof het bevind dat Dutchbat moes weet dat die mans se lewens daardeur in gevaar gestel is.

Bronne: Trouw, BBC, TVNZ

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gideon Erasmus ·

Ek wonder dan wat sal die wêreldhof in Den haag sê van die gebeure in Suid Afrika waar ons blanke Afrikaners in duisende vermoor is sedert 1994 en daar word niks daaraan gedoen deur ons regering nie. Dit klink vir my na volkslagting as mens kyk hoeveel is ons!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.