Nederland sleep Rusland hof toe oor vlug MH17

Die wrak van die Maleisiese passasierstraler, MH 17. Foto (AP Photo/Dmitry Lovetsky, File)

Die Nederlandse regering sleep Rusland na die Europese Hof vir Menseregte oor die land se beweerde rol in die afskiet van vlug MH17 ses jaar gelede.

Dit is ter ondersteuning van individuele sake wat deur van die slagoffers se familielede by dié hof aanhangig gemaak is.

Die vliegtuig van Malaysia Airlines is op 17 Julie 2014 in die lugruim van die Oekraïne afgeskiet en al 283 passasiers en 15 bemanningslede is dood. Die Boeing-vliegtuig was van Amsterdam na Kuala Lumpur onderweg.

“Om geregtigheid vir die 298 slagoffers van vlug MH17 te kry, sal ons regering se hoogste prioriteit bly,” het Stef Blok, Nederland se minister van buitelandse sake, gesê. “Deur vandag hierdie stap te doen beweeg ons nader aan die doel.”

Deur die saak teen Rusland aanhangig te maak, kan die Nederlandse owerhede “alle beskikbare en relevante inligting” oor die afskiet van vlug MH17 aan die Europese Hof in Strasbourg bekend maak sodat dit in die sake van die individuele familielede oorweeg kan word.

Moskou het al herhaaldelik enige betrokkenheid in die afskiet van vlug MH17 ontken. ʼn Internasionale span aanklaers wat die saak ondersoek, het egter drie Russe en ’n Oekraïnse burger aangekla van betrokkenheid by die afskiet van die vliegtuig en die moord op almal aan boord. Die mans word in ’n Nederlandse hof verhoor, hoewel nie een van hulle al aan Nederland uitgelewer is nie.

Aanklaers sê hulle het bewyse dat die missiel wat MH17 afgeskiet het van ’n Russiese militêre basis na die Oekraïne vervoer is en die mobiele lanseerder later aan Rusland terugbesorg is.

Die jongste verwikkelinge is nog ʼn poging deur die Nederlandse regering om sy belofte gestand te doen om geregtigheid vir die slagoffers en hul geliefdes te verseker.

Van die 298 slagoffers was 193 Nederlandse burgers.

  • Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is. – RED

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Nico Strydom ·

Dagsê Blikke
Jammer vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.
Vriendelike groete
Maroela Media

DieKriek ·

My aardrykskunde kennis laat my nou in die steek; ek dog Amsterdam ís in Nederland. Wag, miskien in Holland…

Nico Strydom ·

Dagsê DieKriek
Jammer vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.
Vriendelike groete
Maroela Media

Therese ·

‘n Tragedie wat verhoed kon word as Malaysia Airlines soos ander lugrederye eerder die oorloggeteisterde lugruim vermy het.
Wanneer passasiers se veiligheid eerste geplaas word, word lugroetes aangepas na gelang van omstandighede. Vra vir Qantas of enige ander betroubare lugdiens.
Vlug MH17 is tog heel duidelik nie doelbewus afgeskiet nie, maar is aangesien vir ‘n vyandige tuig.

Jack ·

Die Russe sal nooit erken dat hulle ‘n fout gemaak het nie, laat staan nog dat dit opsetlik was. Die aanklag in die wereldhof sal vir ‘n week of twee vir nuusopskrifte sorg en daarna weer in die vergetelheid verdwyn.

Marthinus W ·

Daar is nog geen bewyse dat Rusland aandadig was nie. Inteendeel, hulle het radarbeelde, ens. ingedien wat Nederland weier om te gebruik. Op Nederlandse TV was daar n insetsel wat die vraag vra of die missiel dalk vir Poetin bedoel was. (Hy was vann BRICs-konferensie af deur die gebied; sy vlug is met een uur vervroeg; sy vliegtuig lyk van ver af nes die gedoemde MH17.) Volgens Amsterdam se prof Karl van Wolveren, het die regering `n geheime protokol onderteken, wat, indien Rusland nie skuldig is nie, die waarheid nooit geopenbaar sal word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.