Nederland verskerp inperking terwyl Europa Omikron probeer stuit

Mense doen inkopies in Rotterdam in Nederland. Talle winkels word ingevolge verskerpte regulasies om Covid-19 te stuit, opnuut gesluit. (Foto: Marco de Swart/ANP/AFP)

Nederland het die afgelope naweek ʼn inperkingstyd tydens die Kerstyd ingestel, terwyl Londen ʼn “reusevoorval” verklaar het in reaksie op stygende Covid-19-syfers en die Omikron-variant wat wêreldwyd al hoe vinniger versprei.

Die hoof van die Europese Unie (EU), Ursulua von der Leyen, het gewaarsku dat die Omikron-variant teen Januarie reeds die oorheersende variant in Europa kan wees.

Talle lande het opnuut reisbeperkings en ander maatreëls ingestel enkele weke nadat Suid-Afrika die nuwe variant geïdentifiseer het.

Nederland se eerste minister, Mark Rutte, het aangekondig dat alle nie-noodsaaklike winkels, kulturele en vermaaksentrums tot 14 Januarie moet sluit. Skole sluit tot minstens 9 Januarie.

ʼn Strenger beperking op die aantal mense wat Nederlanders in hul huise mag toelaat, staar burgers ook in die gesig. ʼn Uitsondering is wel vir Kersdag gemaak.

“Om dit in een sin op te som: Nederland sal opnuut in afsondering gaan,” het Rutte tydens ʼn mediakonferensie gesê.

In Londen het burgemeester Sadiq Khan ʼn “reusevoorval” in die Britse hoofstad verklaar en die toename in nuwe gevalle as “uiters kommerwekkend” bestempel.

Brittanje het die afgelope drie dae rekordgetalle nuwe infeksies aangemeld wat gelei het tot nuwe regulasies en berigte dat ʼn strenger inperking oorweeg word. Die meeste nuwe gevalle wat in Londen aangemeld word, is die Omikron-variant.

Duitsland se gesondheidsagentskap het intussen aangekondig dat hy Brittanje op ʼn lys van hoërisiko-Covid-lande plaas. Dit beteken reisigers sal onderwerp word aan strenger beperkings.

Die veranderings tree Sondag om middernag in werking, wat beteken diegene wat uit Engeland in Duitsland aankom, sal twee weke lank in kwarantyn moet gaan – of hulle nou ingeënt is teen die koronavirus of nie.

Jonges ingeënt

‘n Werker berei ‘n versterkingsdosis vir ‘n pasiënt in Leiden, Nederland, voor. (Foto: Marco de Swart)

Duitsland het Frankryk en Denemarke reeds as hoërisikogebiede geklassifiseer en kwarantyn ingestel vir reisigers wat nie ingeënt is nie.

In Frankryk het ʼn paneel wetenskaplikes ʼn beroep op die regering gedoen om “beduidende beperkings” op Nuwejaarsfeesvierings in te stel, terwyl die hoofstad Parys “met spyt” aangekondig het dat hy alle byeenkomste op die Champs-Élysées opskort.

Elders in Europa het senuweeagtige regerings weer beperkings ingestel om die pandemie – wat wêreldwyd reeds meer as 5,3 miljoen lewens geëis het – te beveg. Die virus het in Desember 2019 in China kop uitgesteek.

Ierland het opdrag gegee dat kroeë en restaurante om 20:00 moet sluit, terwyl Denemarke reeds rolprentteaters en ander openbare venues toegemaak het.

Europese lande probeer ook hard om die hoeveelheid versterkingsdosisse wat toegedien word, te verdubbel en die inentingsprogram uit te brei om ook kinders in te sluit.

Portugal het aangekondig dat duisende kinders jonger as 12 nog dié naweek hul eerste inenting sal kry.

Die Franse minister van gesondheid, Olivier Véran, sê dié land se inentingsprogram vir kinders begin Woensdag. “As alles goed verloop, sal ons op die middag van 22 Desember begin met die inenting van kinders in spesiaal aangepaste sentrums,” het hy aan Frankryk se Inter-radiostasie gesê.

‘Skande vir mensdom’

Die VSA was die eerste groot land wat met die inenting van kinders begin het, en het reeds meer as vyf miljoen kinders jonger as 12 teen die virus ingeënt.

Die EU se gesondheidsagentskap het egter gewaarsku dat daar nie net op entstowwe gesteun kan word nie. Die dra van maskers, die vermyding van groot skares en werk van die huis af is net sommige van die maatreëls wat gevolg moet word om die las op gesondheidstelsels op kort termyn te verlig.

Wêreldwyd lyk die situasie ook steeds kommerwekkend met AFP-syfers wat die toename in nuwe infeksies in Afrika die afgelope week op 57% plaas.

Die Turkse president, Recep Tayyip Erdogan, het aan ʼn forum van Afrika-leiers en amptenare gesê dat die vasteland se lae inentingskoers “ʼn skande vir die mensdom” is.

“Ons is bewus van die wêreldwye ongeregtigheid om toegang tot die Covid-19-entstof te kry en die onregverdige behandeling van Afrika.”

Erdogan het onderneem om 15 miljoen dosisse entstof aan die vasteland te verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

34 Kommentare

jongste oudste gewildste
Marius

Die hele wêreld is besig om kop te verloor. Om kinders in te ent met ‘n ongetoetste entstof wat nie covid keer nie is belaglik.

Andrew

Belaglik, die entings is juis so oneffektief teen die nuwe variant. Meer help niks. enting werk nie om die mutasie van nuwe variante af te weer nie of om die verspreiding van die virus te stop nie.

MakersMark

Maak inentings, verpligtend kinders ook. Mense sal nog CV19opdoen, by die huis aansterk, en nie die gesondheidsisteem oorlaai nie.

Julius

Hier kom ons inperkings oor kerstyd. Nederland het nie verniet miljoene geskenk nie. Daardie geld is omkoop geld en nie vir die virus nie.

Johannes_64

Niemand wil die siekte kry nie, self in die familie en vriende kring al drie verloor, maar meer het dit gemaak. Twee nou onlangs met die nuwe variant, en hulle was skaars siek, net een het koors gehad… die is dalk die ideale variant om mense kudde immuniteit te laat kry cov2 virusse. ‘n Geleentheid wat Europa nou laat verby gaan.