Nederland verskerp ook afsonderingsmaatreëls

(Foto: Dutch Cycling Embassy/Twitter)

Die Nederlandse eerste minister, Mark Rutte, het Dinsdag opdrag gegee dat bykomende afsonderingsmaatreëls in werking gestel word om die verspreiding van Covid-19 aan bande te probeer lê. Hy het ook gewaarsku dat die regering oorweeg om ʼn aandklokreël in te stel en skole te sluit.

Rutte sê die regering beveel ten sterkste aan dat die land se burgers tot middel Januarie glad nie internasionale vakansiereise onderneem nie.

“Die getal bevestigde nuwe gevalle neem af, maar nie vinnig genoeg nie,” het Rutte in ʼn televisieuitsending gesê.

Die nuwe maatreëls tree vandag in werking en geld vir die volgende twee weke.

Rutte sê ander maatreëls sal tot die middel van volgende maand geld.

Kroeë en restaurante in Nederland is sedert verlede maand gesluit en mag net wegneemetes bedien of aflewerings doen. Die afsonderings is deel van ʼn gedeeltelike inperking om ʼn tweede vlaag infeksies te verminder. Openbare byeenkomste word beperk tot vier mense.

Rutte het Dinsdag gesê museums, teaters, flieks, dieretuine en pretparke sal ook moet sluit omdat die infeksiekoers steeds in verskeie groot bevolkingsentrums styg.

ʼn Voorstel om die dra van maskers verpligtend te maak – iets waarvoor noodwetgewing reeds deurgevoer is om grondwetlike probleme te oorkom – tree na verwagting op 1 Desember in werking, het die minister van gesondheid, Hugo de Jonge, gesê.

Nederland volg die voorbeeld van Engeland, Frankryk, Duitsland en verskeie ander kleiner Europese lande wat byeenkomste én mense se bewegings die afgelope paar weke weer streng beperk het.

Die getal nuwe infeksies het die afgelope week met 64 087 toegeneem, ʼn daling van die 67 542 gevalle wat die week tevore aangemeld is. Dit is die eerste keer sedert Augustus dat die infeksiekoers afneem.

Hospitale het weens ʼn skielike styging in Covid-19-pasiënte byna hulle volle kapasiteit bereik en die regering is onder groot druk om die las op die gesondheidsorgstelsel te probeer verlig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.