Nederlandse mededinger van ‘The Crown’ maak opslae

Die Argentynse aktrise Delfina Chaves vertolk die rol van Máxima. (Foto: Millstreet Films)

Die Netflix-trefferreeks The Crown het nou klaarblyklik ʼn groot oranje mededinger.

ʼn Koninklike drama oor koningin Máxima van Nederland, eenvoudig getiteld Máxima, het pas die kleinskerm getref en win reeds lof van kykers én kritici in.

Die reeks, wat uit ses episodes bestaan, is tans op die Nederlandse stromingsdiens Videoland te sien. Die reeks handel oor die lewe van Máxima Zorreguieta, ʼn Argentynse bemarkingsassistent wat in 2002 met koning Willem-Alexander, destyds die kroonprins van Nederland, getrou het.

Die drama is gebaseer op Marcia Luyten se boek Máxima Zorreguieta: Moederland en is reeds vir ʼn tweede seisoen hernu.

Delfina en die Nederlandse akteur Martijn Lakemeier, wat in Willem-Alexander se skoene klim. (Foto: Millstreet Films)

Volgens Milstreet Films, die vervaardigers van die reeks, fokus die eerste seisoen op Máxima se grootwordjare en wys hoe sy haar loopbaan en verhouding met die Nederlandse kroonprins probeer navigeer.

Máxima se lokprent gee ook ʼn blik op die uitdagings wat die toekomstige koningin ervaar het weens die omstredenheid rondom haar pa se politieke loopbaan as ʼn minister in die diktatoriale Argentynse regering van generaal Jorge Rafael Videla.

Die koninklike paartjie se eerste ontmoeting word in die reeks uitgebeeld. (Foto: Millstreet Films)

Die Argentynse aktrise Delfina Chaves vertolk die rol van Máxima, terwyl die Nederlandse akteur Martijn Lakemeier in Willem-Alexander se koninklike skoene klim.

“Die verhaal word vanuit Máxima se perspektief vertel, wat haar vasberadenheid en ambisie beklemtoon, asook haar stryd om die lojaliteit teenoor haar gesin en haar eie identiteit te balanseer,” lui Millstreet Films se beskrywing van die reeks.

Die Nederlandse koninklike egpaar tydens ‘n onlangse staatsbesoek aan Suid-Afrika. (Foto: Remko de Waal/AFP)

“In die tweede seisoen ontdek Máxima egter dat dit nie so maklik is om die liefde van die Nederlanders te behou as wat dit was om dit te wen nie.”

Die vervaardigers het ook bevestig die Nederlandse koningshuis het kennis geneem van die feit dat ʼn reeks vervaardig word, maar “het nie verder betrokke geraak nie”.

Máxima is tans nog nie in Suid-Afrika te sien nie.

Koning Willem-Alexander en koningin Máxima het drie dogters, Catharina-Amalia, Alexia en Ariane. Prinses Catharina-Amalia (20) het die amptelike troonopvolger van die Nederlandse troon geword toe haar pa die troon op 30 April 2013 bestyg het.

Maroela Media het onlangs berig dat sy een van ʼn rits jong Europese prinsesse is wat hul krone stadig maar seker regskuif om in komende jare op trone reg oor dié vasteland te sit.

Die toekomstige koningin is tans in haar tweede jaar aan die Universiteit van Amsterdam waar sy politiek, sielkundige reg en ekonomie studeer.

Bronne: AFP, Hello, Tatler

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.