‘Nee dankie’ – Namibiese stamhoofde oor Duitse aanbod ná volksmoord

Vier Namibiese stamhoofde het die Duitsers se aanbod verwerp. (Foto: Vicky Sim/Unsplash)

Vier tradisionele stamhoofde in Namibië het Duitsland se aanbod van €1,1 miljard – sowat R18 miljard – in finansiële hulp verwerp wat die land aangebied het om te betaal vir die volksmoord wat tussen 1904 en 1908 in sy destydse kolonie gepleeg is.

Maroela Media het vroeër berig Duitsland het Vrydag vir die eerste keer erken hy het volksmoord tydens die koloniale besetting van Namibië gepleeg.

Duitse koloniale setlaars het derduisende inheemse Herero- en Nama-mense tussen 1904 en 1908 vermoor in slagtings wat geskiedkundiges as die eerste volksmoord van die 20ste eeu bestempel het.

Berlyn het vantevore al erken vergrype het aan die hand van sy koloniale owerhede plaasgevind, maar het tot dusver geweier om enige regstreekse vergoeding te betaal.

“Ons sal nou amptelik na dié gebeure verwys as na wat dit uit vandag se perspektief beskou word: volksmoord,” het Heiko Maas, Duitsland se minister van buitelandse sake, verlede week gesê.

The Namibian berig nou tradisionele stamhoofde van die Maharero-, Kambazembi-, Gam en Zeraeua- koninklike huise het die aanbod verwerp en dit as “beledigend” bestempel.

Deutsche Welle het vantevore berig die Duitse regering het sedert 1952 meer as €71 miljard (ongeveer R1,2 biljoen [trillion] in pensioene en maatskaplike welsynstoelae aan Jode betaal wat onder die Nazi-regime gely het.

The Namibian berig stamhoofde Tjinaani Maharero, Manasse Zeraeua, Benestus Kandundu en Jonathan Katjimune wil weet hoekom dieselfde bedrae nie onder dieselfde voorwaardes aan Namibiërs betaal kan word nie. Hulle sê daar moet met die aanbod gewag word sodat verdere beraadslaging kan plaasvind.

Luidens die berig wil mense geld, pleks van toelae vir spesifieke projekte, hê.

Daar is aanvanklik vir N$16 duisend miljard (trillion) oor 40 jaar gevra, maar die eis is later verminder tot N$8 duisend miljard (trillion) oor 40 jaar.

Namibiese pres. Hage Geingob se vergadering met geraakte gemeenskappe is vroeër afgelas nadat hy en sy vrou positief vir Covid-19 getoets het.

Kazenambo Kazenambo, ʼn voormalige kabinetsminister, het die onderhandelaars as “hansworse” bestempel en die Namibiese regering daarvan beskuldig dat Duitsland hom as strooipop gebruik. Hy het aan The Namibian gesê Duitsland se hantering van die proses het geen gevoeligheid gewys nie en dat die Namibiese regering ʼn ruggraat nodig het.

Namibië is tydens Berlynse bewind tussen 1884 en 1915 Duits-Suidwes-Afrika genoem en was daarna 75 jaar lank onder die beheer van Suid-Afrika, voor dit in 1990 onafhanklikheid verkry het.

In 1904 het die Herero en daarna ook die kleiner Nama-stam in opstand gekom, maar Duitse ryksoldate het die opstand onderdruk. In Augustus 1904, tydens die Slag van Waterberg, het sowat 80 000 Herero, ook vroue en kinders, gevlug. Duitse troepe het hulle agternagesit oor wat deesdae bekend staan as die Kalahariwoestyn en net 15 000 mense het oorleef.

Duitse genl. Lothar von Trotha, wat beveel is om die rebellie te stuit, het die mense se uitwissing beveel. Minstens 60 000 Herero en 10 000 Nama is tussen 1904 en 1908 doodgemaak. Koloniale soldate het massateregstellings gedoen, en mans, vroue en kinders na die woestyn verban waar duisende weens dors omgekom het.

Die aankondiging dat die gebeure voortaan as ʼn volksmoord bekend sal staan, is vroeër as geskiedkundig bestempel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Piet ·

Dalk is dit dan ook tyd vir Engeland om die Afrikaner volk te vergoed wat meer as 30000 vroue en kinders laat sterf het in hul konsentrasie kampe en die grysgevangenisse op St Helena.

Cherokee ·

Wàt word as die reg op vergoeding beskou? Daar kan dalk nie ‘n induviduele reg bestaan nie. Kan daar ‘n gesamentlike reg bestaan? Verlies aan menselewens kan tog nie met geld vervang word nie.

Martin ·

So…..Gaan die engelse die boere ook vergoed vir ons volksmoord van vrouens en kinders….asking for a friend soos hulle sal se.

Wielspore ·

Ek soek geld vir my familie wat deur die Britte in konsentrasie kampe vermoor is.

Piet Pompies ·

hoekom ondersteun Duitsland nie eerder vir Israel nie – vir al die jode wat hulle vermoor het

Anel ·

Hoe vêr wil mense niu nig teruggaan? Is alle oorloë nie maar volksmoorde nie? Wat van die Indiaane in Amerika of die stamme in New Zeeland en Australië? Daardie mense is ook uit gemoor? Maar wat het ons gedoen? Jan van Riebeeck het met die Bybel onder die arm hier afgeklim. Ons mense is van toe af uit gemoor. Ons het die mense probeer opvoed, en kyk nou! Van wie gaan ons eis? Kom daaroor!

Cherokee ·

Julle praat van vergoeding vanaf England?
Antie Elizabeth Windsor weier steeds om dit te erken of verskoning te vra.

Misky ·

Ek lees nou die kommentare oor Brittanje SA vergoed vir moord op duisende SA’ners, maar na wie se sakke sal daai geld gaan INDIEN so iets gebeur? Ons almal weet wat die antwoord is

Willem ·

Ja – en wat van al die Boerevrouens e -kinders wat deur die Engelse in konsentrasiekampe doodgemaak is?

annie ·

Die syfers vir sterftes klink bietjie baie hoog. Waar het die massas mense gewoon in die land met so min drinkwater? Al die stamme kon nie heel suid en heel noord gewoon het nie anders het hul mekaar uitgewis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.