Nege by Russiese skool doodgeskiet

Die Russiese owerhede Dinsdag buite Skool Nr. 175 in Kazan. (Foto: Roman Kruchinin / AFP)

Minstens nege mense is dood tydens ’n skietery by ’n hoërskool in Rusland.

Luidens plaaslike berigte het twee aanvallers Dinsdag by Skool Nr. 175 in Kazan, die hoofstad van die Russiese republiek Tatarstan, losgebrand.

Minstens agt leerders en een onderwyser is doodgeskiet.

ʼn Sewentienjarige aanvaller is intussen in hegtenis geneem terwyl die tweede aanvaller in die skoolgebou doodgeskiet is.

Die president van die Republiek van Tatarstan, Rustam Minnikhanov, het reeds die skool besoek.

In beeldmateriaal van die skool wat op die staatstelevisie uitgesaai is, kan gesien word hoe tientalle mense Dinsdag buite die skool saamdrom. Die plaaslike brandweerdiens en polisie is ook nog op die toneel.

Die Russiese owerhede Dinsdag buite Skool Nr. 175 in Kazan. (Foto: Roman Kruchinin / AFP)

“Ek was in die klas; ek het eers ʼn ontploffing gehoor en toe geweerskote,” het ʼn onderwyser aan die nuusagentskap TASS gesê.

ʼn Ander bron wat deur die RIA Novosti-nuusagentskap aangehaal is, het gesê dat die persoon ʼn ontploffing gehoor het en rook uit die skoolgebou sien trek het.

Rusland ondervind betreklik min skietvoorvalle by skole weens die gewoonlik streng sekuriteit by die land se onderwysinstellings en die feit dat dit moeilik is om ’n vuurwapen wettig te koop. Dit is wel moontlik om jaggewere in Rusland te registreer.

’n 19-jarige student het in November 2019 by sy kollege in die oostelike stad Blagoveshchensk losgebrand en een klasmaat doodgeskiet. Drie ander is gewond voordat die skieter homself om die lewe gebring het.

’n Gewapende tiener het ook in Oktober 2018 altesaam 20 mense by die Kerch- tegniese kollege in die Krim vermoor voordat hy homself ook om die lewe gebring het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Blomme ·

Ag dis nou tragies. Dink intens aan die families geraak deur hierdie tragedie.

JM ·

Ek wonder altyd wat in die koppe van sulke skieters/moordenaars aangaan. Al hierdie voorvalle is gewoonlik onvoorspelbaar. Hoekom wil ‘n mens onskuldige mense doodmaak? Dit is siek!

Ben ·

Ek was al verskeie kere in Kazan – ‘n pragtige stad met baie vriendelike mense. Ek voel so hartseer vir die families en vriende van die slagoffers.

Maroelamedia, ek weet toe hierdie artikel geskryf was, was daar nog baie onsekerheid oor die gebeure en dit is dus normaal vir foute om in te sluip. Ek voel egter dit is julle verantwoordelikheid om die artikel te korrigeer nou dat meer akkurate inligting beskikbaar is. Byvoorbeeld, die aanvaller wat gearresteer is, Ilnaz Galyaviev, was 19 en nie 17 soos in die artikel geskryf is nie. Daar was ook nie ‘n tweede aanvaller wat, soos volgens julle artikel, “in die skoolgebou doodgeskiet is” nie. Verder het die slagoffers bestaan uit 7 kinders, ‘n onderwyser en ‘n vroulike personeellid, nie agt leerders soos in die artikel nie.

Zani2106 ·

ek moet net vra ,,, wie die hel word wakker en se ” oh ek gaan n geweer skool toe vat en almal gaan skied ….. wat gan an in die mense se kop yoh ….dis asof skool skietery n “Trend ” as n mens kyk na al die voorvalle

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.