Nege maande oue baba toets positief vir Covid-19

Dr Lia Tadesse, minister van gesondheid in Ethiopië (Foto: @lia_tadesse/Twitter)

ʼn Nege maande oue baba het positief getoets vir Covid-19 in Ethiopië, aldus die land se departement van gesondheid.

Dr. Lia Tadesse, minister van gesondheid in die land, het in ʼn verklaring gesê die baba het saam met sy ma na Doebai gereis.

ʼn Dokter in Ethiopië het ma’s gewaarsku om “bedagsaam” te wees ná dit bekend gemaak is dat die nege maande oue baba positief getoets het, aldus ʼn plaaslike publikasie, Daily Nation. “Swanger ma’s moet hulself teen die virus beskerm,” het dr. Bereket Solomon aan die publikasie gesê.

Volgens die Amerikaanse Sentrum vir Siektebeheer (CDC) is ma-tot-kind-oordrag van die virus onwaarskynlik, “maar ná geboorte is ʼn pasgebore baba vatbaar vir persoon-tot-persoon-oordrag”. “ʼn Geringe hoeveelheid babas het positief getoets vir die virus kort ná geboorte. Dit is egter nie bekend of die babas die virus voor of ná geboorte opgedoen het nie. Die virus is nog nie opgemerk in baarmoedervloeistof of borsmelk nie,” het die CDC gesê.

Volgens Tadesse het 52 mense teen Dinsdag reeds positief getoets vir die nuwe koronavirus sedert die eerste geval op 12 Maart in die land aangemeld is. Al die pasiënte is onder kwarantyn in toegewyde hotelle in die land se hoofstad, Addis Abeba. Twee Covid-19-sterftes is aangemeld. Vier persone het herstel.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae