Nege sterf in Senegal-protes   

Nege mense is in Senegal dood nadat geweld oor die tronkstraf van Ousmane Sonko, die land se opposisieleier, uitgebreek het. (Foto: John Wessels)

Nege mense is in Senegal in Wes-Afrika dood nadat geweld oor die tronkstraf van Ousmane Sonko, die land se opposisieleier, uitgebreek het.

Sonko, leier van die Pastef-Patriots, is Donderdag tot twee jaar tronkstraf gevonnis nadat hy daaraan skuldig bevind is dat hy “ʼn nadelige invloed op die land se jeug het”.

Dit kan Sonko se kans om volgende jaar aan die presidentsverkiesing deel te neem heeltemal in die wiele ry. Sonko is Macky Sall, die huidige president, se grootste teenstander.

Die strafsaak het groot verdeeldheid in Senegal veroorsaak en tot sporadiese dog dodelike geweld gelei wat ʼn klad op die land se beeld van stabiliteit laat.

Konflik het Donderdag tussen betogers en die polisie uitgebreek, en twee busse is die afgelope twee dae in Senegal se hoofstad, Dakar, aan die brand gesteek.

Onrus is ook elders in die land aangemeld, insluitend die stad Ziguinchor, waar Sonko sedert verlede jaar die burgemeester is.

“Ons neem met spyt kennis van die geweld wat tot die vernietiging van private en openbare eiendom gelei het, asook die dood van nege mense in Dakar en Ziguinchor,” het Antoine Diome, Senegalese minister van binnelandse sake, gesê.

Betogers het voertuie aan die brand gesteek nadat geweld Donderdag in Senegal uitgebreek het. (Foto: John Wessels / AFP)

Polisiebeamptes het op voorwaarde van anonimiteit aan AFP bevestig dat drie van sterftes tydens betogings in Ziguinchor plaasgevind het, terwyl ʼn polisieman in Dakar gesterf het nadat jong betogers hom met klippe bestook het.

Sonko het gewildheid verwerf toe hy in 2019 aan die presidentsverkiesing deelgeneem het. Hy het ʼn derde plek behaal wat stemmery betref ná ʼn veldtog wat Sall en die regerende party in die land geteiken het.

Sonko hou Sall voor as ʼn “korrupte en toekomstige diktator”, terwyl Sall se ondersteuners Sonko uitkryt as ʼn opsweper wat onstabiliteit saai.

Sonko se aanvanklike inhegtenisneming in 2021 op aanklag van verkragting, het destyds ook tot protesaksies en onluste gelei waartydens 12 mense dood is. Die hof het hom intussen op dié aanklag vrygespreek. Hy is ook vrygespreek op aanklagte dat hy doodsdreigemente gemaak het.

Die 48-jarige Sonko het nie enige hofverrigtinge bygewoon nie en was ook nie teenwoordig toe sy vonnis Donderdag opgelê is nie.

Geweld in Senegal. Polisie het betogers met traangas geskiet. (Foto: Guy Peterson / AFP)

Na verneem word, was hy by sy huis in Dakar, waar hy deur veiligheidsmagte aangehou is. Die hof het nie ʼn beslissing gevel oor sy inhegtenisneming nie, maar ná twee jaar se konfrontasies met owerhede het die minister van justisie, Ismaila Madior Fall, aan joernaliste gesê dat Sonko “nou enige tyd in hegtenis geneem kan word”.

Die geweld in Dakar en Ziguinchor het uitgebreek toe Sonko se party ʼn beroep om sy ondersteuners gedoen het om “die strate in te vaar”.

Die universiteitskampus in Dakar het sedertdien ontaard in wat beskryf word as ʼn “oorlogsone”, terwyl betogers polisiebeamptes aangeval en met klippe bestook het. Die polisie het met traangas teruggevuur.

Verskeie busse van die universiteit se mediese fakulteit is aan die brand gesteek, asook die geskiedenisafdeling en die skool vir joernalistiek. Kantore is ook geplunder.

Alle klasse is tot verdere kennisgewing gestaak.

Elders in die stad is ʼn vervoerkaartjiekantoor geplunder. Eiendom is beskadig terwyl brande bande paaie versper het.

Geweld het intussen ook in Casamance in die suide van die land, Mbour en Kaolack in die weste en St. Louis in die noorde uitgebreek.

Toegang tot sosialmediaplatforms soos YouTube, Instagram en Whatsapp is sedert Donderdag beperk.

“Die situasie herinner aan die 2021-betogings en sal die publiek se vermoë om te kommunikeer waarskynlik aansienlik beperk,” het Netblocks, ʼn internasionale internetmonitor, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

Cyril en sy Afrika vreedemaakers is op pad om wel, vrede te beswerkstellig, en dan aan na New Zealand om tussenby te tree in die verskil tussen Tannie Dina en haar seun Danie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.