Negejarige sterf ná Astroworld-stormloop

‘n Hemp hang oor ‘n bord by NRG Park in Houston waar die Astroworld-musiekfees aangebied is. (Foto: Brandon Bell / Getty Images via AFP)

Die negejarige Ezra Blount wat meer as ’n week lank in die hospitaal om sy lewe geveg het ná ’n stormloop by die kletsrymer Travis Scott se konsert in Texas, het Sondag aan sy beserings beswyk.

Dit bring die dodetal tien dae ná die konsert op tien te staan.

Talle konsertgangers is op 5 November beseer toe hulle ʼn optrede deur Scott by die Astroworld-musiekfees in Houston bygewoon het. Nagenoeg 50 000 konsertgangers het dié aand byeengekom vir Scott se optrede toe gretige aanhangers van agter af vorentoe na die verhoog gedruk en chaos veroorsaak het.

Ezra was een van dié wat ernstige beserings tydens die stormloop opgedoen het en is ná die konsert in ’n geïnduseerde koma geplaas.

Ben Crump, ʼn vooraanstaande Amerikaanse prokureur wat die slagoffers van die tragedie verteenwoordig, het laat Sondagaand ʼn verklaring uitgereik waarin hy bevestig het dat Blount aan sy beserings beswyk het.

“Die Blount-gesin treur vanaand oor die onbegryplike verlies van hul kosbare jong seun.

“Dit moes nie die uitkoms gewees het toe hulle hul seun na ʼn konsert geneem het wat veronderstel was om ʼn vreugdevolle viering te wees nie. Ezra se dood is absoluut hartverskeurend,” het Crump gesê.

Maroela Media het vroeër berig minstens 60 regsgedinge is teen verlede week aangekondig – waarvan die meeste teen Scott en die kletsrymer Drake gemaak is.

Live Nation, ʼn groot nasionale geleentheidsorganiseerder en die organiseerder van dié konsert, Scoremore, ʼn Texas-konsertgroep, en ASM Global, ʼn internasionale venue-groep, is onder dié wat ook deur aanklagte in die gesig gestaar word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Janine ·

‘n 9 jarige het BESLIS nie by so vieslike besigheid gehoort nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.