Neil Young wil Spotify verlaat oor ‘valse inligting’ oor inentings

Die kombinasiebeeld is op 25 Januarie 2022 geskep. Links is Neil Young op 7 Julie 2018 in Quebec, Kanada, tydens die Festival d’Ete. Regs is Joe Rogan op 10 Desember 2021 by die UFC 269 se seremoniële inweging by die MGM Grand Garden-arena in Las Vegas, Nevada. (Foto: Alice Chiche en Carmen Mandato/Verskeie bronne/AFP)

Die Kanadees-Amerikaanse musikant Neil Young het in ʼn ope brief aan Spotify daarop aangedring dat sy musiek van dié platform verwyder word.

Young (76) voer aan dié platform versprei misleidende inligting oor Covid-19-inentings, onder meer via aanbieder Joe Rogan en sy gewilde reeks podsendings.

“Ek doen dit omdat Spotify valse inligting versprei oor inentings, wat tot die dood van diegene wat dié inligting glo, kan lei,” het die sanger van liedjies soos “Heart of Gold” en “Harvest Moon” geskryf.

“Ek wil Spotify onmiddellik en vandag nog in kennis stel dat ek al my musiek van hul platform verwyder wil hê. Hulle kan Rogan of Young hê. Nie albei nie.”

Die brief, wat intussen van Young se webwerf verwyder is, het Maandag vir die eerste keer in Rolling Stone verskyn. Spotify het nog nie op AFP se navraag oor die sanger se versoek gereageer nie, maar die musikant se musiek was Dinsdag nog op dié platform te vinde.

Miljoene luisteraars skakel in op Rogan se podsendings. Hy het onlangs ʼn ooreenkoms van $100 miljoen (sowat R1,5 miljard) met Spotify gesluit, maar volgens kritici is Spotify ʼn platform wat samesweringsteorieë en valse inligting, spesifiek oor Covid-19, versprei.

Neil Young vir die eerste keer op die verhoog in Quebec, Kanada, tydens die Festival d’Ete op 7 Julie 2018. (Foto: Alice Chiche/AFP)

Rogan het jong mense onder meer ontmoedig om ingeënt te word en beveel die gebruik van ivermektien om dié virus te behandel ten sterkste aan.

In Desember het 270 dokters, geneeshere en professors ʼn ope brief aan Spotify onderteken wat by die platform pleit om ondersoek in te stel oor die “valse inligting” op die platform.

“Dit is ʼn sosiologiese kwessie van verpletterende proporsies en Spotify is verantwoordelik daarvoor om toe te laat dat dié aktiwiteit floreer op sy platform,” lui die brief.

Young het in 2015 sy musiek van Spotify verwyder en “kwessies met swak klankgehalte” aangevoer vir sy besluit, maar het intussen weer toegegee dat sy musiek op die platform verskyn en gesê “dit is waar mense hulle musiek kry”.

Hy het sy eie aanlyn argief van al sy musiek waarop aanhangers kan inteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Madelein ·

Neil Young is wie nou weer? Jaloers omdat hy nie naastenby Joe Rogan se syfers kan trek nie.
Gaan bly in Kanada waar hulle jou met ope arms sal verwelkom.

Twallie ·

Ag ou Neil…Loop staan in ‘n voor.

As die ou self na Rogan se podcast luister sal hy soos ‘n swaap voel. Ek luister daarna en sy inligting is redelik gelowenswaardig en as hy verkeerd is sê hy so.

Young meen dus dat die dokters en wetenskaplikes wat Rogan as gaste gehad het, versprei valse inligting. Dit is bewys dat meeste van die 270 “dokters” actually “doktors” is met ‘n handjievol “dokters” en dat meeste van die mediese dokters op die lys nie praktiseer nie, maar allerhande navorsing doen in nie relevante velde, volgens die lys wat op Twitter verskyn het.

Die VSA is Covid mal want hul lefty politici kook daai pot vol vrees om mense te beheer.

Sterkte met jou crusade teen die grootste Podcast in die wêreld. Ek is seker Spotify gaan Rogan vir jou verwyder. LOL.

SlinkseKoljander ·

Daai laaste paar styp trekking voor hy die emmer skop.

Mercia ·

Geen idee wie hy is nie maar ek weet wie Seth Rogan is.
Klink soos daardie buur omies wat mens kry wat aldag sit en kla oor alles wat hulle deur die venster sit en beloer. Totsiens Neil Young…….moenie dat die deur jou op die pad uit op die agterstewe slaan nie!

Yolandie ·

Seth Rogan is ‘n akteur, maar Joe Rogan is a podcaster in die VSA wat die linkse media aanvat oor hulle valsheid. Nie almal hou daarvan nie. Joe Rogan trek omtrent so 11 Miljoen luisteraars wereld wyd op Spotify…….terwyl Neil Young so 6 miljoen doen. Dalk net ‘n bietjie suur druiwe omdat Joe beter doen as hy.

JouPa ·

en dis gemiddeld 11 miljoen luisteraars per episode, hy is nou groter en meer betroubaar as die 4 grootse media groepe saam

LANA is ELANè ·

Volgens my is Jo Rogan op die regte pad en moet Neil Young maar sy musiek vat en klaarkry. Hierdie “celebrities” wat alewig dink hulle besit die almag en pag moet ook net oor hulself kom. Almal val nie vir hulle dreigemente ens nie. Die meeste mense, sover ek weet het nog hul eie brein en dus wil, om self te oordeel na waarna hulle luister.

Carolina ·

Jammer maar hy het die trekpas gekry, when you go woke you go broke!!

Nico ·

Wonder wie gaan meer verloor, hy of Spotify?
Die ou fossiel kan nie meer mooi dink nie.

Trish ·

Wel gedaan Neil Young! Dis tyd dat mense opstaan teen mense en sosiale platforms wat Ander bang praat oor die vaksiene!

Adriaan ·

Spotify het neil young se musiek begin verwyder.

Bye neil, gaan jou nie mis nie!

Lourens ·

Spotify het sommer vinnig besluit dis Neil wat moet gly. En alhoewel ou Neil nie self meer al sy musiek regte besit nie amper al sy musiek reeds verwyder.. Laat my dink aan wat Lynyrd Skynyrd al destyds gese het in Sweet Home Alabama: “Well I hope Neil Young will remember, A southern man don’t need him around anyhow”.

Hennie Biebouw ·

Rogan trek rondom 11 miljoen luisteraars / kykers vir elke podcast. Young se invloed is nie naastenby dit nie. So is die ou hippie rocker maar druip stert pad af.

Carolina ·

As ‘n ” past by sell date ou” iemand wil aanvat wat 170 milljoen kykers op sy podcast kry, bye bye Neil!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.