Nepal verwelkom eerste Everest-klimmers ná jaar

Everest in Napal. (Prakash Mathema/AFP)

Nepal het sy afsonderingsregulasies verslap in ʼn poging om meer toeriste wat Berg Everest vanjaar wil uitklim, te lok. Die klimseisoen skop eersdaags af, nadat die berg verlede jaar weens die pandemie vir klimmers gesluit was. Die seisoen strek van begin April tot einde Mei, en dan weer van September tot November.

Owerhede het Donderdag aangekondig dat besoekers met hul aankoms getoets sal word en net in kwarantyn sal bly tot hul uitslae negatief terugkom. Besoekers moes voorheen vir sewe dae in kwarantyn bly. Besoekers sal steeds ʼn bewys van ʼn negatiewe koronavirusresultaat aan owerhede moet verskaf voor hul aankoms in Nepal.

“Ons verwag dat besoekers wat hul ekspedisies uitgestel het, nou Nepal sal besoek om dit voort te sit,” het Mira Acharya, direkteur van die plaaslike departement van toerisme, gesê.

“Hoewel dit onwaarskynlik is dat klimmers nou ter elfder ure ʼn bespreking sal maak, sal hierdie regulasies beslis die land op die lange duur help [om meer klimmers te lok].”

Nepal het tot dusver 45 permitte vir die klim van verskillende bergreekse in die Himalaja uitgereik. Owerhede verwag dat daar dié seisoen ongeveer 300 klimmers in totaal op Everest, die wêreld se hoogste berg, sal wees.

Tibet se kant van die berg bly egter steeds vir buitelanders gesluit.

Die koms van die pandemie het Nepal gedwing om sy grense te sluit voor die besigste tyd in die bergklimseisoen verlede jaar. Volgens Acharya was dit ʼn verwoestende slag vir duisende Nepalese wat afhanklik is van die toerisme wat die berg lok.

Voor die pandemie het Nepal gesukkel om die groot aantal mense wat Everest wil uitklim te akkommodeer. Soms het oorbevolking op die berg noodlottige gevolge gehad. In 2019 het ʼn rekordgetal van 885 mense die berg geklim, 664 van hulle het van die suide gekom en 241 van die noorde in Tibet. Altesaam 11 mense is tydens 2019 se klimseisoen op Everest dood. Minstens vier hiervan was as gevolg van oorbevolking en verkeer op die berg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Samuel

En so begin omgewingsbesoedeling van voor af.