Netanyahu verwerp oproepe om aanvalle op Rafah te stuit

Skade in Rafah (Foto: MOHAMMED ABED/AFP)

Vooruitsigte vir ʼn skietstilstand tussen Israel en Hamas het Sondag verdof, terwyl Benjamin Netanyahu, premier van Israel, ook gesê het hy sal nie swig onder druk om aanvalle op Gaza se mees suidelike stad Rafah te stuit nie.

Die Internasionale Geregshof in Den Haag het Vrydag Suid-Afrika se versoek om meer wetlike druk op Israel uit te oefen om ʼn dreigende offensief in Rafah te keer, verwerp en gesê Israel is “gebonde om aan bestaande maatreëls te voldoen”.

Israel bly “gebonde om ten volle te voldoen aan sy verpligtinge ingevolge die Volksmoordkonvensie en die genoemde bevel”, lui die hof se uitspraak, met verwysing na sy uitspraak van 26 Januarie.

Ondanks die verwerping van sy jongste versoek, het Suid-Afrika die jongste uitspraak verwelkom.

“Die hof bevestig ons siening dat die gevaarlike situasie die onmiddellike en doeltreffende inwerkingstelling vereis van die voorlopige maatreëls wat deur die hof in sy bevel van 26 Januarie aangedui is, wat regdeur die Gaza-strook van toepassing is, en dus Rafah insluit,” het pres. Cyril Ramaphosa in ʼn verklaring gesê.

Egipte is intussen ál meer bekommerd dat ʼn Israeliese inval in Rafah mense wat daar vasgekeer is oor die grens kan dwing. Pres. Abdel Fattah al-Sisi het Saterdag weer Egipte se teenkanting teen enige gedwonge verplasing na die Sinai-woestyn herhaal.

Selfs al word ʼn tydelike skietstilstand by die samesprekings in Kaïro gesluit, het Netanyahu gesê dat sy troepe se grondinval in Rafah sal voortgaan.

Benjamin Netanyahu. (Foto: Sebastian Scheiner/POOL/AFP)

Lande wat Israel anders aanspoor, sê wesenlik “verloor die oorlog”, het Netanyahu gesê.

Volgende week se moontlike stemming van die Verenigde Nasies se veiligheidsraad lyk onwaarskynlik om die skietstilstandpoging te bevorder, met die VSA wat reeds teenkanting uitgespreek het.

“Die Verenigde State ondersteun nie optrede oor hierdie konsepresolusie nie,” het die Amerikaanse ambassadeur by die VN, Linda Thomas-Greenfield, in ʼn verklaring gesê.

Algerië se konsepresolusie streef na ʼn onmiddellike humanitêre wapenstilstand, maar Thomas-Greenfield het gesê die VSA ondersteun eerder ʼn wapenstilstand-vir-gyselaars-ooreenkoms wat gevegte vir ses weke sal onderbreek.

Amerika se president, Joe Biden, het hierdie week “veelvuldige oproepe” met Netanyahu, asook Egiptiese en Katari-leiers gehad “om hierdie ooreenkoms vorentoe te stoot”, het Thomas-Greenfield gesê.

Netanyahu het ook druk van sommige Westerse regerings vir die eensydige erkenning van ʼn Palestynse staat verwerp.

“Ná die verskriklike slagting van 7 Oktober kan daar geen groter beloning vir terrorisme wees as dít nie en dit sal enige toekomstige vredeskikkings verhoed,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Aggie ·

Ons regering is onbeskaamd hand om die blaas met teroriste ten opsigte van hierdie oorlog. Intussen sterf daar baie meer mense, 84 per dag, in ons eie land weens moord en doodslag. Maar ons weet mos noual dat die anc meer betrokke is by die muishonde om so hul eie land uit die kollig te hou. Mag die stembus ons tog red????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.