Netflix koop omvattende Roald Dahl-werke

Netflix (Foto: Facebook)

Netflix het Dinsdag aangekondig hy het die omvattende werke van die bekroonde kinderboekskrywer Roald Dahl, skepper van klassieke boeke soos Charlie and the chocolate factory en Matilda, verkry.

Die stromingsreus het gesê hy het The Roald Dahl Story Company (RDSC), die familiefirma wat die ontslape Britse skrywer se kopieregte besit, aangekoop.

Netflix het reeds in 2018 ʼn ooreenkoms met dié maatskappy gesluit om ʼn reeks te skep wat geskoei is op 16 van Dahl se boeke.

“Dié verkryging bou op die vennootskap wat drie jaar gelede begin is om ʼn geanimeerde televisiereeks te skep,” het Ted Sarandos, mede- uitvoerende hoof van Netflix, en Luke Kelly, besturende direkteur van RDSC en Dahl se kleinseun, in ʼn gesamentlike verklaring gesê.

Onder die vorige ooreenkoms het die Oscar-bekroonde rolprentmaker Taika Waititi en Zootropolis-draaiboekskrywer Phil Johnston saamgewerk aan ʼn reeks geskoei op die wêreld van Charlie and the chocolate factory. ʼn Verwerking van Matilda the musical is ook onderweg.

“Hierdie projekte het ons bewus gemaak van ʼn veel meer ambisieuse waagstuk – die skepping van ʼn unieke heelal oor geanimeerde en lewende aksieflieks en televisie, uitgewery, speletjies, meeslepende ervarings, teater, verbruikersprodukte en meer,” het Netflix gesê.

Dahl is in 1990 in die ouderdom van 74 jaar oorlede nadat hy verskeie klassieke boeke soos Fantastic Mr. Fox, The twits, The witches en The BFG geskryf het.

Sy boeke is in 63 tale vertaal en daar is meer as 300 miljoen eksemplare wêreldwyd verkoop.

“Hierdie stories en hulle boodskap van mag en moontlikhede vir jongmense het nog nooit meer toepaslik gevoel nie,” lui die verklaring.

“Namate ons hierdie tydlose verhale na meer gehore in nuwe formate bring, is ons toegewyd daaraan om daardie unieke gees en universele temas van verrassings en inherente goedheid te behou terwyl ons ook daaraan ʼn vars sprankel gee.”

Geen geldelike besonderhede van die ooreenkoms is bekend gemaak nie.

The Hollywood Reporter het in 2018 bronne aangehaal wat gesê het die lisensiëringsooreenkoms vir 16 van Dahl se boeke het Netflix meer as $100 miljoen uit die sak gejaag.

Verskeie van Dahl se boeke is vir die grootskerm verwerk, waaronder Charlie and the chocolate factory, The witches, Fantastic Mr. Fox en The BFG.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ferryman ·

Ek het altwee weergawes van The Witches geniet. Op ‘n punt waar ek sukkel om te besluit wie die hoofheks die beste vertolk het. Angelica Huston en Anne Hathaway was uitsstekend in hulle rolle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.