Netflix wil nou ook ‘roofkykers’ vasvat

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Souvik Banerjee / Unsplash)

Netflix wil ʼn stokkie steek voor rekeninghouers wat hul wagwoorde met mense buite hul huishoudings deel.

Die internasionale nuusblad Variety berig dat die stromingsdiensverskaffer nou ʼn proeflopie in sommige lande van stapel gaan stuur waar bykomende gelde vir primêre rekeninghouers gehef sal word indien ander mense van hul rekening gebruik maak.

Volgens Netflix se diensbepalings mag ’n klant se rekening “nie met individue buite jou huishouding gedeel word nie”. Dit blyk egter dat rekeninghouers al jare daarmee wegkom.

Chili, Costa Rica en Peru sal nou die eerste proefkonyne wees van Netflix se jongste poging om roofkyk te stuit.

Volgens Netflix sal dit gebruikers in dié lande tussen R32 en R45 kos om ʼn sub-rekeninghouer tot die primêre rekening te voeg. Dit is nog onduidelik wat die vaste koste sal wees wat ook in ander lande ingestel kan word.

In Suid-Afrika betaal primêre rekeninghouers tans tussen R50 en R200 vir ʼn Netflix-rekening – afhangend van die rekeningopsie en toestel wat gebruik word om programme of flieks te stroom.

“Ons het dit altyd maklik gemaak vir mense wat saam woon om hul Netflix-rekening te deel, met funksies soos afsonderlike profiele en veelvuldige stroomopsies in ons standaard- en premiumplanne,” het Chengyi Long, direkteur van produkinnovasie by Netflix, in ’n blogplasing oor die proeflopie geskryf. Hy meen hoewel dié opsie baie gewild is, skep dit ook verwarring oor wanneer en hoe Netflix-rekeninge gedeel kan word.  “Gevolglik word rekeninge tussen huishoudings gedeel – wat ons vermoë beïnvloed om in wonderlike nuwe reekse en films vir ons intekenaars te belê.” Maroela Media het vroeër berig dat DStv ook sy stroming gaan beperk.

DStv-intekenare sal van vandeesmaand af op net een toestel op ʼn slag DStv-kanale kan stroom.

MultiChoice het aangekondig dat die verandering van 22 Maart af sal geld “as een van vele deurlopende maatreëls om die deel van wagwoorde en roofkykery teë te werk”. Die stap het groot kritiek onder intekenare ontlok.

Netflix het verlede jaar ook ʼn proeflopie gedoen waar gebruikers versoek is om weer hul rekeningbesonderhede in te voer in ʼn poging om roofkykers aan te moedig om vir hul eie rekeninge te betaal.

ʼn Aanporboodskap het in Februarie verlede jaar ook op sommige gebruikers se skerms verskyn wat gelui het: “Indien jy nie saam met die eienaar van hierdie rekening woon nie, het jy jou eie rekening nodig om verder te kyk”.

Gebruikers is dan gevra om ʼn kode in te voer wat na hul e-posadres of selfoon gestuur is. Daar was egter ook ʼn opsie om dit later te verifieer.

Dit is onduidelik of die aanporboodskap lukraak verskyn het en of die bedrywighede op sommige intekenaars se rekeninge aanleiding tot die boodskap gegee het. Netflix het aan die einde van 2021 byna 222 miljoen betalende intekenaars gehad, van wie 34% in die VSA en Kanada is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

VaalDonkie ·

Ek dink dis simpel. Ek dink nie hulle is verkeerd nie, ek dink net hulle is simpel. Want jy gaan duisende mense kry wat byvoorbeeld op vakansie gaan en wil Netflix kyk op die strand of wat ookal en dan lyk dit soos “roofkyk”, maar dis nogsteeds die ou wat die rekening betaal. En hulle gaan ook deurloop en kwaad word.

Jywilwat ·

Dit is ‘n baie meer professionele benadering tot n probleem as dstv wat dit wil beperk na net 1 stroom per rekening.

Jean ·

Mens kan klaar al Netflix se stories verniet kry op die internet wat hulle nie gestop kry nie.

virginia ·

Hoe en waar Jean? Help ons vir die wat nie weet nie asb.

VaalDonkie ·

Virginia, kry ‘n jong seun om vir jou Popcorn Time op jou rekenaar te laai.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.