Netflix wil videospeletjies se mark betree

Argieffoto.

Netflix het Dinsdag gesê hy wil videospeletjies gratis by sy pakkette insluit. Die besluit volg op ʼn poging om lidmaatskap van die stromingsreus ʼn bykomende hupstoot te gee.

Volgens BBC het Netflix in ʼn brief aan beleggers gesê hy is reeds in die vroeë stadium om na speletjies uit te brei. Die soort speletjies wat vir mobiele toestelle geskep is, sal eerste by die platform gevoeg word.

Netflix het Mike Verdu, ʼn Facebook-veteraan van videospeletjies, aangewys om sy span vir die ontwikkeling te lei. Verdu was ook visepresident van spelontwikkeling by Electronic Arts (EA).

Verdu het reeds openlik erken dat trefferspeletjies soos Fortnite die stromingsdiens se mededinger vir mense se aanlyn vermaaktyd is.

Netflix het al voorheen met speletjies gewoeker en ʼn interaktiewe Bandersnatch-episode van die oorspronklike reeks Black Mirror uitgereik, asook ʼn gratis mobieletoestel-speletjie wat by sy trefferprogram Stranger Things aansluit.

Die stromingsdiens het glo ook sy ooreenkoms met Shonda Rhimes, die skepper van die wegholsuksesreeks Bridgerton, uitgebrei om die ontwikkeling van speletjies in te sluit.

Aandelepryse, inkomste en winste

(Foto: Omid Armin/Unsplash)

Netflix se aandele het vroeër die week laer verhandel nadat die stromingsdiens ʼn teiken op lidmaatskaptal misgeloop het.

Dié Kaliforniese maatskappy het gesê dit het tydens die drie maande tot einde September 3,5 miljoen nuwe intekenare aangemeld; dit was minder as die 5,86 miljoen intekenare wat ontleders voorspel het.

“Die pandemie het ʼn mate van wisselvalligheid in ons ledegroei geskep. Meer intekenare het in 2020 vir Netflix ingeteken, maar die groei is stadiger vanjaar, en dit werk nou deur.

“Ons fokus steeds daarop om ons diens aan ons lede te verbeter en hulle die beste stories van oor die hele wêreld te gee,” het die diens in sy jongste finansiële bywerking gesê.

Netflix het nou meer as 209 miljoen betaallede, maar die pandemie was tot dusver ʼn tweesnydende swaard vir die stromingsdiens. Terwyl meer mense op die platform ingeteken het weens die inperkingsmaatreëls omdat hulle meer tyd gehad het om televisie te kyk, moes die produksie van talle groot reekse terselfdertyd onderbreek word.

Hoewel die aantal nuwe lidmaatskapaansoeke verlangsaam het, het die onderneming in die drie maande tot einde Junie $7,3 miljard (sowat R108 miljard) verdien, ongeveer 19% meer as ʼn jaar tevore.

Die stromingsdiens se winste het egter tot $1,35 miljard (sowat R20 miljard) gedaal, teenoor die $1,7 miljard (sowat R25 miljard) in die vorige kwartaal. Dit is hoofsaaklik toegeskryf aan bykomende belegging in die verbetering van programme in tale wat nie Engels is nie. Die netto-inkomste-syfer het ook nie aan die markverwagtinge voldoen nie.

Netflix het gesê dat hy voortgaan om meer geld in produksies in te stoot en graag sy aandeel in skermtyd in die VSA en oor die wêreld wil vergroot. Dit beteken dat die stromingsreus met YouTube, Epic Games en selfs TikTok om kykers se aandag wil meeding.

Aangesien die diens ook toenemend strawwe mededinging kry van nuwe stromingsplatforms wat die mark betree, soos Disney+ of Amazon Prime, kan speletjies ʼn unieke aanbod aan Netflix-gebruikers bied.

Die onafhanklike telekommunikasie-ontleder Paolo Pescatore het gesê dit kan ʼn duur speletjie vir die stromingsreus wees. “Die maatskappy sal aansienlike middele moet bestee, met inbegrip van tyd en belegging, sonder enige gewaarborgde sukses.

“Dit is beslis ʼn langtermynstrategie, want Netflix moet sterk nadink oor behoud en betrokkenheid.”

Hy het ook gewaarsku dat die wêreld van videospeletjies uiters mededingend is en dit kan dalk jare duur voordat die stromingsreus hom in dié mark kan vestig.

Eric Haggstrom, ʼn senior ontleder van eMarkerter, meen Netflix het ʼn versadigingspunt in die VSA bereik, maar kan nog sy pryse verhoog om so ʼn verdere inkomste uit die Amerikaanse mark te verdien.

Haggstrom reken videospeletjies kan ʼn mate van groei in lidmaatskaptal vir die stromingsdiens beteken, maar uiteindelik sal die groei van intekenare en inkomste veel laer as vantevore wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Diklizzy ·

Dalk moet Netflix eerder ophou om onderskeid te tref tussen lande en alle inhoud oopstel vir alle intekenaars.

Lanfear ·

Dit sou baie lekker gewees het as hulle dit KON doen. Elke land het sy eie wette, reels en kopieregte. Dit is hoekom party lande nie party flieks en reekse kry om te kyk nie, of dit eers later kry. Net die Netflix Originals wys orals sover ek weet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.