New Orleans in donkerte ná orkaan

Orkaan Ida het New Orleans Sondag in duisternis gedompel. (Foto: Patrick Fallon/AFP)

Orkaan Ida het Sondag die lewe van een mens geëis en die inwoners van New Orleans in die Amerikaanse deelstaat Louisiana in duisternis gedompel. Dit is dalk die sterkste orkaan wat die deelstaat nóg beleef het.

Dié orkaan het Louisiana Sondag bereik en ʼn maksimum windsnelheid van 153 km/h opgelewer wat die kragtoevoer van die hele New Orleans uitgeslaan het.

Entergy New Orleans, die stad se elektrisiteitsverskaffer, het in ʼn twiet bevestig dat byna ʼn halfmiljoen mense sonder krag is.

“Die intensiteit van orkaan Ida het katastrofiese skade aangerig, maar ons doen alles in ons vermoë om die toevoer van krag te herstel.”

Die verskaffer het gesê die kragtoevoer sal nie teen Maandagaand al herstel kan word nie, maar het inwoners verseker dat hy ʼn aantal kragopwekkers aan nooddienste verskaf het.

Die orkaan het ʼn windsnelheid van 153 km/h opgelewer voordat die kragtoevoer uitgeslaan is. (Foto: Brandon Bell/Getty Images/AFP)

Intussen het dié storm die lewe van een mens geëis toe ʼn boom in Prairieville, noordwes van New Orleans, omgeval het.

Pres. Joe Biden het die afgelope naweek ʼn ramptoestand afgekondig en meer as 2 000 nooddienswerkers na die streek ontplooi. Altesaam 13 soek-en-reddingspanne is ook saam met kos, water en kragopwekkers na Louisiana gestuur.

Plaaslike owerhede en die Rooikruis- humanitêre beweging het tientalle skuilings vir minstens 16 000 mense opgerig.

Biden het egter inwoners opnuut versoek om steeds maskers te dra en sosiale afstand te handhaaf in ʼn poging om Covid-19 hok te slaan.

John Bel Edwards, die goewerneur van Louisiana, het gesê orkaan Ida kan dalk die sterkste storm wees wat die staat nóg gesien het.

Owerhede het Maandag gesê tussen 25 cm en 46 cm reënval word nog in dele van die suide van Louisiana verwag, hoewel die windsnelheid reeds tot 120 km/h gedaal het. Die storm sal glo verswak namate dit oor die land beweeg en teen Woensdag die Atlantiese Oseaan bereik.

‘n Satellietbeeld van Orkaan Ida. (Foto: NOAA/GOES/AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

piet ·

Was dit nie vir Biden se flinke optrede nie kon baie meer mense gesterf het.

Michael ·

Piet, Biden weet nie eens wat om hom aangaan nie! Dit agv. sy flinke optrede in Afghanistan dat daar baie mense dood en beseer is…!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.