New York-ontploffing was ‘poging tot terreur’

Polisiebeamptes staan by die ingang van ʼn ondergrondse treintonnel by Port Authority in New York (11 Desember 2017). Foto: AP Photo/Andres Kudacki

Bill de Blasio, burgemeester van die stad New York in die VSA, het Maandag se ontploffing naby een van die besigste pendelaarspunte in dié stad as “ʼn poging tot ʼn terreuraanval” beskryf.

ʼn 27-jarige Bangladesjiese man is in hegtenis geneem nadat ʼn tuisgemaakte pypbom wat aan sy lyf vasgemaak was gedeeltelik ontplof het in een van die ondergrondse gange by Port Authority op die hoek van 42ste Straat en 8ste Laan in Manhattan. Die voorval het gedurende spitstyd gebeur waar meer as 200 000 mense daagliks deur die Times Square-stasie beweeg.

Akayed Ullah is na ʼn hospitaal geneem nadat hy brandwonde tydens die ontploffing opgedoen het. Die ploftoestel was met Velcro en kabelbinders aan sy lyf vasgemaak. Owerhede het gesê die pypbom het nie volledig ontplof nie. Dit is nie duidelik of die ontploffing bedoel was om ʼn selfmoordbomaanval te wees nie.

Die ontploffing het teen 07:00 (plaaslike tyd) in die ondergrondse gang tussen twee treinstasies plaasgevind. Pendelaars het paniekbevange na die uitgange gehardloop en owerhede het vinnig treinroetes opgeskort en strate in die omgewing afgesper. Drie mense, insluitend ʼn polisiebeamptes, het geringe beserings opgedoen.

Die aanval kom net ses weke nadat Sayfullo Saipov, ʼn Oezbekistanse man, met ʼn bakkie in ʼn skare mense op ʼn fietspaadjie, ook in Manhattan, ingeploeg het. Agt mense het in die voorval gesterf. Die Islamitiese Staat (Isis) het later verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar.

James O’Neill, New York se polisiekommissaris. (11 Desember 2017). Foto: AP Photo/Mark Lennihan

In September 2016 is 31 mense beseer toe ʼn tuisgemaakte bom in die Chelsea-woonbuurt in New York ontplof het.

Andrew Cuomo, New York se goewerneur, het tydens ʼn mediakonferensie gesê Maandag se aanval was “op ʼn amateur vlak”. Hy het aan CNN gesê die bom het moontlik nie volledig ontplof nie wat die skade geminimaliseer het.

“Laat ons dit duidelik stel, as inwoners van New York draai ons lewens om die treine,” het De Blasio op die mediakonferensie gesê. “En laat ons dit ook duidelik stel, hierdie was ʼn poging tot ʼn terreuraanval.”

Pres. Donald Trump het in ʼn verklaring gesê die aanval onderstreep net weer die behoefte vir immigrasiehervorming in die VSA. “Ons moet aandag gee aan ons laks immigrasiestelsel wat heeltemal te veel gevaarlike mense, wat nie voldoende gekeur is nie, in ons land toelaat,” het hy gesê.

Trump het ook die visum-program gekritiseer wat Ullah in 2011 toegang tot die VSA gegee het omdat hy familielede gehad het wat reeds in die land is en gesê sulke familie-visums is “in stryd met nasionale veiligheid”.

Owerhede het nie onmiddellik kommentaar gelewer oor Ullah se motief vir die aanval nie. Op ʼn vraag of Ullah enige verbintenisse met Isis het, het James O’Neill, New York se polisiekommissaris, geantwoord: “Hy het verklarings gemaak, maar ons gaan nie nou dadelik daaroor praat nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Valerie ·

jy is reg, Marous. Dit is uitgevoer en was terreur. Die aanhalingstekens word verkeerd gebruik en moet verwyder word.

Griet ·

Dit sou TEREUR gewees het, indien iemand behalwe die persoon wat die toestel laat ontplof het, gesterf het. Niemand het gesterf nie, drie mense het GERINGE beserings opgedoen. Die beskrywing tans is korrek – dit was ‘n POGING tot ‘n tereur aanval.

Eish ·

Nie almal is jou goedgesind wat jou aan huis besoek nie. Dis hoekom n mens jou huis se deure geslote hou. Vir slange, peste en ander plae.

PJC ·

Wonder of die liberale burgermeester en almal wat dieselfde uitkyk het een of ander tyd die durf sal hê om te erken hul siening en beleid is die oorsaak van die gemors. Miskien verdwyn hulle ook so stil stil soos diegene wat ons land so in elende gedompel het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.