New York-woonstel vir amper R3 miljard verkoop

Central Park South 220 in Januarie 2019 terwyl daar konstruksie aan die gang was (Foto: TIMOTHY A. CLARY/AFP)

ʼn Dakwoonstel met vier slaapkamers en wat oor Central Park uitkyk, is vir $190 miljoen (amper R3 miljard) verkoop, in wat beskryf word as een van die duurste transaksies in New York se eiendomsgeskiedenis.

Die Wall Street Journal berig die Amerikaanse miljardêr Daniel Och het die woonstel slegs twee jaar gelede vir die helfte van die prys teen $93 miljoen gekoop.

Die woonstel van 900 vierkante meter is geleë in Central Park South 220 in die hartjie van Manhattan. Volgens die Wall Street Journal is die woonstel aan ʼn anonieme koper verkoop.

Och (61) het volgens Forbes ʼn geskatte netto waarde van $4,1 miljard. Hy het die beleggingsfirma Och-Ziff Capital Management gestig, wat sy naam in September 2019 na Sculptor verander het ná ʼn omkoperyskandaal waarby Och persoonlik betrek is.

Die maatskappy, wat teen verlede jaar $37,5 miljard bestuur het, het in 2016 $413 miljoen betaal om klagte dat hy amptenare in die Demokratiese Republiek van die Kongo, Libië en ander Afrikalande omgekoop het, te skik.

Toe Och die Central Park-dakwoonstel in 2019 gekoop het, het hy sy tuisstaat om belastingredes na Florida verander, en beplan om die New York-woonstel net af en toe te gebruik.

Och besit steeds ʼn luukse woonstel net om die draai, wat hy volgens die Wall Street Journal in 2019 vir $57,5 miljoen in die mark gesit het, maar hy het dit vyf maande gelede aan die mark onttrek.

ʼn Ander eenheid in dieselfde wolkekrabber is in 2019 deur die Amerikaanse verskansingsfondsbestuurder Ken Griffin vir $238 miljoen gekoop – die hoogste bedrag wat nog ooit vir ʼn private huis in die VSA betaal is, volgens die berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Waarnemer ·

Gelukkige eiendoms agent.Hy/sy hoef nie meer verder te werk nie.

Skadu ·

In die eerste paragraaf is $190m die ‘duurste transaksies in New York se eiendomsgeskiedenis’.

In die laaste paragraaf was ‘n eenheid in dieselfde gebou gekoop vir $238m in 2019.

Wat mis ek?

Marisa W ·

“een van die duurste transaksies” maw daar is nog wat duurder is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.