Nie gou skietstilstand in Gasa

Michael Bloomberg (L), voormalige burgemeester van New York, het Woensdag na Ben Gurion-lughawe gevlieg waar Benjamin Netanyahu, eerste minister van Israel, hom ontmoet het. Foto: The Prime Minister of Israel, Facebook

Michael Bloomberg (L), voormalige burgemeester van New York, het Woensdag na Ben Gurion-lughawe gevlieg waar Benjamin Netanyahu, eerste minister van Israel, hom ontmoet het. Foto: The Prime Minister of Israel, Facebook

Israel het by monde van sy minister van wetenskap die moontlikheid van ‘n spoedige Israelse onttrekking uit die Gasastrook as “onwaarskynlik” beskryf.

Minister Yaakov Peri meen Israel sal meer as twee tot drie dae nodig hê om die talle tonnels van Hamas na Israel te vernietig. Hierdie tonnels word vir smokkel en insypeling gebruik.

Ook Hamas sien geen vooruitsigte vir ‘n skietstilstand sonder baie bepaalde voorwaardes nie. Hamas het egter aangedui dat ‘n tydelike skietstilstand vir humanitêre redes oorweeg sal word.

Israel het intussen baie skerp gereageer op die voorsitter van die VN se Mensergteraad, Navi Pillay se opmerking, dat Israel se optrede in die Gasa op oorlogsmisdade kan neerkom.

Israel het vererg teruggekap en gesê dan moet eers toegesien word dat Hamas nie kindertuine vir missiellansering gebruik, en operasionele sentrums in hospitale en moskees inrig nie. ‘n Tweede geval het intussen aan die lig gekom waar die Palestyne skole vir wapenopslagplekke gebruik het.

In die eerste geval het die skool onder die beheer van die VN-agentskap vir humanitêre hulp vir Gasa gestaan. Die VN het die voorval in die sterkste moontlike taal veroordeel.

Intussen het die Menseregteraad, wat sterk deur Moslemlande oorheers word, met 47 stemme teen dié van die VN gestem dat Israel se moontlike skending van oorlogsreg ondersoek word. Sewentien lande, waaronder Europese lande, het buite stemming gebly. Israel dring aan dat Hamas se gebruik van burgerlike skilde, soos skole, hospitale, kleuterskole en woonhuise, deel van die ondersoek moet uitmaak.

Intussen loop die inisiatief van die VSA se minister van buitelandse sake, John Kerry, om vrede te bewerkstellig hom teen onverwagse teenstand vas. Waarnemers wys daarop dat sommige Arabiese lande, soos Egipte, Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate, onwillig is om ‘n vrede te laat realiseer wat dit enigsins sal laat lyk of Hamas ‘n oorwinning behaal het.

Hulle is veral onwillig dat die Islamitiese fundamentalisme wat Hamas onderlê momentum en aansien kry. Hierteenoor opereer ‘n deel van Hamas se leierskap uit Katar, terwyl ook die Palestynse president, Mahmoud Abbas, Hamas se eise vir omvattende konsessies in ruil vir vrede steun.

Die sensitiwiteit oor wat as ‘n Hamas-oorwinning beskou kan word, loop hoog. Israel is uiters ontsteld omdat sommige lugdienste hul vlugte na Tel Aviv opgeskort het nadat ‘n mortier uit Gasa daar naby ontplof het. Israel beskou die optrede as ‘n erkenning van ‘n Hamas-oorwinning.
Bronne: Trouw, De Standaard, Christian Science Monitor

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.