Nié moord nie, sê Namibiese polisie

Elna-Marie Abbott (Foto: Facebook via Elizma Theron)

Die Namibiese polisie het glo bevestig die ondersoek na Elna-Marie Abbott (29) se dood is afgehandel ná haar onthoofde liggaam Vrydagoggend op ʼn treinspoor in Windhoek aangetref is.

Volgens die Namibiese koerant Die Republikein het haar jonger suster, Elzane Abbott, gesê die polisie het haar ingelig die ondersoek is afgehandel. Dit het glo aan die lig gekom dat sy haar eie lewe op die treinspoor geneem het.

Maroela Media het vroeër berig dreigende teksboodskappe van ʼn onbekende manspersoon is op Abbott se selfoon gevind. ʼn “Ingeligte bron” het glo aan Die Republikein gesê sy het onlangs ʼn liefdesteleurstelling beleef.

Abbott is as vermis aangemeld en haar motor is later, ongeveer 2 km van waar haar liggaam gevind is, opgespoor. Dit is geparkeer in die gebied van Ausspannplatz in ʼn parkeerterrein van Merensky Tower. Sy het glo haar motorsleutels by die ontvangs van die Merensky Towers ingehandig en aan die ontvangsdame gesê ʼn man van Suid-Afrika sou later haar motor kom haal.

Speurders het haar motor deursoek. Verskeie persoonlike besittings, insluitend haar selfoon en drie sakke met klere en nagklere, boeke en grimering, is in die motor gevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.