Niemand oorleef Chinese vliegramp

Reddingswerkers op die toneel waar die vliegtuig neergestort het. (Foto: Noel Celis / AFP)

Al 132 mense aan boord die China Eastern-vliegtuig wat vroeg vandeesweek teen ʼn berg in die suide van China vasgevlieg het, is dood verklaar.

Die slagoffers se naasbestaandes moes dae lank op tyding wag nadat vlug MU5735 Maandag in ruwe terrein naby Wuzhou neergestort het. Reddingspanne het tevergeefs na oorlewendes gesoek.

“Al 123 passasiers en nege bemanningslede van vlug MU5735 van China Eastern is op 21 Maart aan boord dood,” het Hu Zhenjiang, adjunkdirekteur van die Burgerlugvaartadministrasie van China, Saterdag aan verslaggewers gesê.

Altesame 120 van die slagoffers kon reeds deur middel van DNS geïdentifiseer word.

Daar kon egter steeds nie vasgestel word waarom die Boeing 737 neergestort het nie. Opsporingsdata toon dat die vliegtuig sowat 20 000 voet in net meer as ’n minuut geval het.

Die tweede vlugopnemer is intussen opgespoor.

Reddingswerkers op die toneel waar die vliegtuig neergestort het. (Foto: Noel Celis / AFP)

Openbare uitsaaier CCTV het Sondag beeldmateriaal uitgesaai waarin gesien kan word hoe reddingswerkers ’n oranjekleurige silinder wat met grond bedek is, opspoor. Die silinder was 1,5 meter diep by die wortels van ’n boom gevind.

Die vliegtuig was met twee vlugopnemers – ’n stuurkajuit-stemopnemer en een in die agterste passasierskajuit – toegerus toe dit neergestort het.

Eersgenoemde is Woensdag gevind en vir ontleding na Beijing gestuur.

Die tweede vlugopnemer bevat data soos spoed, hoogte en rigting.

Maroela Media het vroeër berig die ongeluk is China se ergste vliegtuigongeluk in drie dekades. Die Chinese pres. Xi Jinping het opdrag gegee dat ʼn volledige ondersoek dringend gedoen word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.