Nieu-Seeland: ‘Geen teken van lewe’ op vulkaan-eiland

‘n Digte rookwolk ná die vulkaniese uitbarsting op White Island. (Foto: ANA)

Jacinda Ardern, eerste minister van Nieu-Seeland, sê geen teken van lewe is op White Island opgemerk toe helikopters verskeie kere oor dié eiland gevlieg het op soek na oorlewendes nie.

Dít volg nadat ’n vulkaan Maandag op dié eiland, sowat 50 km van die Nieu-Seelandse kus, uitgebars het. Vyf mense is dood en agt is as vermis aangemeld. Dié mense het waarskynlik ook in die uitbarsting omgekom, sê plaaslike polisie nou.

Volgens die polisie word 31 mense tans in sewe hospitale behandel. Drie mense is reeds uit die hospitaal ontslaan.

Volgens Ardern sluit die slagoffers van die dodelike uitbarsting toeriste van Australië, die VSA, Brittanje en Maleisië in aangesien White Island gereeld deur toeriste besoek word.

“Dit is nou duidelik dat daar twee groepe op die eiland was – dié wat die plek kon verlaat en dié wat naby aan die uitbarsting was,” sê Ardern.

ʼn Amptenaar van die Chinese ambassade in Nieu-Seeland het gesê ’n noodreaksie is in werking gestel. Die ambassade werk tans saam met die plaaslike polisie om te bevestig of daar ook Chinese burgers onder die slagoffers is.

Maroela Media het vroeër berig daar was minder as 50 mense op die eiland tydens die uitbarsting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.