Nieu-Seeland hoor vandag of vlag verander

Die voorgestelde nuwe vlag (links) en die bestaande vlag met die Britse Union Jack (regs) Foto: Marty Melville/AFP/Getty Images

Die voorgestelde nuwe vlag (links) en die bestaande vlag met die Britse Union Jack (regs) Foto: Marty Melville/AFP/Getty Images

Nieu-Seelanders sal Donderdag hoor of hulle die Britse Union Jack op hul vlag gaan behou, en of dit met ʼn silwer varingblaar vervang gaan word, nadat 2 miljoen mense aan ʼn referendum deelgeneem het.

Kiesers moes besluit tussen die bestaande vlag, wat al sedert 1902 ʼn nasionale simbool is, en ʼn nuwe ontwerp wat saamgestel is nadat meer as 10 000 inskrywings deur die publiek ontvang is.

Die inskrywings het gestrek tussen ernstig tot belaglik, soos een met ʼn kiwivoël wat ʼn groen laserstraal uit sy oog skiet. Die wenontwerp was uiteindelik ʼn samestelling tussen die ou en die nuwe, deur die Suiderkruis-sterformasie te behou, maar dit Britse simbool met ʼn inheemse plant te vervang.

Ná miljoene dollar aan die proses bestee is, het meningspeilings egter daarop gedui dat Nieu-Seelanders waarskynlik die bestaande vlag verkies. Voorstanders vir die nuwe vlag het egter nog nie hul hoop laat vaar nie, en gesê hulle het momentum aan hul kant.

“Dit gaan naby wees,” het Lewis Holden, voorsitter vir ʼn veldtog vir verandering, gesê. “Ek sal daarvan hou om te sien hoe ons die lyn oorsteek.”

Holden het gesê hy glo ʼn meerderheid van die kiesers is ten gunste daarvan om die vlag te verander, maar nie almal hou van die nuwe ontwerp nie.

Diegene wat verandering soek, het gesê die huidige vlag is ʼn “oorblyfsel uit die land se koloniale verlede” en “te naby” aan Australië se vlag.

Diegene wat verkies dat die vlag onveranderd moet bly, het gesê die nuwe ontwerp is nie inspirerend nie of bloot ʼn poging deur eerste minister John Key om ʼn nalatenskap te skep.

Meer as 66% van die 3,2 miljoen geregistreerde kiesers het aan die referendum deelgeneem.

Donderdag se uitslag sal voorlopig wees, alhoewel die laaste geldige stembriewe wat binne die volgende paar dae sal inkom, nie noodwendig die uitslag sal verander nie, tensy dit buitengewoon naby is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Swanna ·

Ek dink die vlag is prakties en baie mooi. Raak onslae en maak julle los van die Britte.

Gwen ·

Die vlag is nie saamgestel uit meer as 10 000 inskrywings nie, dit is gekies uit meer as 10 000 inskrywings. As dit ’n samestelling van al die inskrywings was moes ons seker die kiwi met die groen lasers gesien het op die vlag, of hoe?

Sune van Heerden ·

Dagsê Gwen

Ons vra om verskoning indien die bewoording van die berig verwarring veroorsaak het. Die berig is gewysig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.