Nieu-Seeland staal homself vir impak van sikloon Gabrielle

‘n Oorstroomde supermark in Auckland, Nieu-Seeland (Januarie 2023) (Foto: Twitter)

Nieu-Seeland se eerste minister het inwoners Sondag gewaarsku om gereed te maak om moontlik te ontruim terwyl ʼn sikloon die noordelike punt van die land getref het.

Sikloon Gabrielle sal na verwagting van Sondagaand oor ʼn 48 uur-periode oor die boonste helfte van Noordeiland trek, twee weke nadat dele van dieselfde streek verwoestende oorstromings beleef het.

Auckland bly in ʼn noodtoestand ná oorstromings die stad op 27 Januarie getref het. Vier mense is dood en duisende moes hul huise ontruim.

Puin van dié oorstromings is steeds in die strate van die land se grootste stad te sien wat nou weer swaar reën en erge winde verwag.

Eerste minister Chris Hipkins het gesê almal moet gereed wees vir die gevare wat oorstromings, groot golwe en wind meebring.

“Ons belangrikste boodskap vir mense reg oor die land is om asseblief ag te slaan op waarskuwings oor weersomstandighede en seker te maak hulle het voorbereidings getref,” het hy aan verslaggewers gesê. “Maak seker julle het alles byderhand indien jy jou huis moet ontruim.”

Die MetService-weerburo het Sondagoggend winde van tot 140 km/h in die noorde van Nieu-Seeland aangeteken.

“Die stelsel hou ʼn baie ernstige gevaar in vir uiterste ongekende weersomstandighede oor talle streke van Noordeiland van Sondag tot Dinsdag,” het die MetService gesê.

Die sikloon sal na verwagting Maandag en Dinsdag verswak wanneer dit in ʼn suidelike rigting beweeg.

Auckland se hawebrug is Sondag weens sterk wind gesluit en talle vlugte na en van Auckland-lughawe is vir Maandag gekanselleer.

Gabrielle is afgegradeer van ʼn tropiese sikloon toe dit Nieu-Seeland genader het. Windspoed en reën kan dus effe ligter wees as wat aanvanklik voorspel is.

Die storm het Saterdagaand oor Australië se afgeleë Norfolkeiland beweeg. Daar is berigte van bome wat omgeval het en kragonderbrekings, maar nie enige beduidende skade nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.