Nieu-Seeland tans ‘koronavirusvry’

Jacinda Ardern gedurende Maandag se mediakonferensie. (Foto: Mark Mitchell/New Zealand Herald via AP)

Nieu-Seeland gaan binnekort byna al sy afsonderingsregulasies ophef aangesien die land tans geen aktiewe gevalle van die nuwe koronavirus het nie. Nieu-Seeland het vir langer as twee weke nog geen nuwe gevalle van Covid-19 aangemeld nie.

BBC berig die land sal Maandag omstreeks 24:00 (plaaslike tyd) na vlak 1, die laagste vlak van afsondering, skuif.

Hoewel die land se grense voorlopig gesluit sal bly, sal die handhaaf van sosiale afstand wel van middernag nie meer in Nieu-Seeland verpligtend wees nie. Sosiale afstand word wel steeds aangeraai. Sosiale byeenkomste sal ook eindelik weer in dié land toegelaat word.

Jacinda Ardern, eerste minister van Nieu-Seeland, het Maandag tydens ’n nuuskonferensie gesê sy het “ʼn klein dansie” gedoen toe sy hoor dat die land tans geen nuwe aktiewe gevalle van Covid-19 het nie.

Volgens Ardern het Nieu-Seeland die afgelope 17 dae nog geen nuwe gevalle aangemeld nie. Byna 40 000 toetse is in dié tyd in die land gedoen en geen pasiënte het positief getoets vir Covid-19 nie. Geen pasiënte is ook die afgelope 12 dae in ’n hospitaal in dié land behandel vir Covid-19 nie.

Adern het wel gewaarsku dat die land beslis weer gevalle van die nuwe koronavirus sal aanmeld.

“Hierdie vryheid van beperkings is afhanklik van die voortdurende rol wat ons grensbeheer sal speel om die virus uit te hou. Die virus sal nog geruime tyd in ons wêreld wees,” het sy gesê.

“Hoewel alles nie verby is nie kan ons nie ontken dat hierdie ʼn mylpaal is nie. Al wat ek kan sê, is eenvoudig: ‘Dankie, Nieu-Seeland’.”

Nieu-Seeland het op 25 Maart vanjaar vlak 4 van afsondering in dié land ingestel te midde van die Covid-19-pandemie waarna die land in April na vlak 3 van sy afsonderingstydperk geskuif het. Vlak 2 is teen die middel van Mei in dié land ingestel.

Die land het tot op hede 1 504 bevestigde gevalle van Covid-19 aangemeld met 22 mense wat weens die virus gesterf het.

Bronne: BBC, CNN

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Kom red ons, en wees ons President asseblief Jacinda Ardern.

jinny jualinda

Gehoorsame burgers maak n groot verskil.

Alexander

Dissipline maak ‘n reuse verskil. En dan word daar ook nie apartheid gebruik om vir als te blameer nie.

Raakvatter

Hulle het dalk nie meer die virus nie, en dis fantasties. Maar [tong in die kies] het hulle ook nie meer die wereld beker nie ;-)

Leon

Ongelukkig het hulle witmense in beheer en dit is ‘n doring in die wêreld se vlees want dit bewys wat witmense kan doen. Die rassistiese ANC sal apartheid die skuld gee dat Nieu Zealand nie Covid meer het nie.
Ek het ‘n oud kollega daar en hy sê die mense het alles reggedoen. Daarom is hulle vry.
Wag tot die eerste besoeker inkom. Dan praat ons weer.