‘n Aardbewing van 5,6 op die momentmagnitudeskaal het sowat 44 kilometer suidoos van Hokitika op Nieu-Seeland se Suid-Eiland voorgekom.
Dit is deur ‘n naskok van M4,2 gevolg, asook talle ligter naskokke. Boonop het ’n aardbewing van M5,3 in Auckland voorgekom soewel as ’n aardskudding van M4,8 by die L’Esperance Rock, in die noorde van die land.
Al die skuddings was op of naby die groot verskuiwingsvlak wat van noord na suid deur Nieu-Seeland loop. Die M5,6-skudding by Hokitika is oor groot dele van die Suid-Eiland gevoel. Dit is as ’n “lang angswekkende skudding” beskryf, en die groot geraas wat daarmee gepaard gegaan het is daaraan toegeskryf dat die episentrum taamlik vlak was – sowat 5km na finale berekeninge gedoen is.
Verskeie spoorlyne is as voorsorg gesluit tot na inspeksie. Die meeste is weer oopgestel.
Bronne: USGS en TVNZ